Senwes Spinners 10 jaar oud




10-jaar vieringe
Die vieringe het afgeskop met krieketopleiding by 10 plaasskole (5 in Noordwes en 5 in die Vrystaat) en afrigters wat by Noordwes Krieket opgelei is.  Daarna is 'n 4-dag kriekettoernooi vanaf 28 tot 31 Maart 2016 in Potchefstroom gehou.  Potchefstroom Boys High het gasheer gespeel vir al 10 spanne en die wedstryde is op die velde van Boys High en die Tegniese Hoërskool gespeel.
 
Die top twee spanne was Humansvlakte en Phakela Primêre Skole en alhoewel reën die finale wedstryd op 14 Mei by Senwes Park in die wiele gery het, het die twee skole die wenbeker gedeel en elke skool het met R3 750 huiswaarts gekeer. Die gala-dinee daarna is bygewoon deur Senwes bestuur, Noordwes Krieket raadslede en verteenwoordigers van Krieket SA, skoolhoofde, afrigters en die kapteine van die plaasskoolspanne wat aan die toernooi deelgeneem het, sowel as krieketlegendes.
 
Geskiedenis
Senwes, in vennootskap met die Noordwes Krieketvereniging, het in 2006 die Senwes Spinners Krieketontwikkelingsprogram geloods. Die program het sedertdien van krag tot krag gegaan.
 
Francois Strydom, Groep Hoof Uitvoerende Beampte van Senwes het gesê: “Ek dink die feit dat ons 'n dekade van betrokkenheid by krieketontwikkeling in die plattelandse gebiede vier, bewys dat Senwes 100% verbind is tot die verbetering van lewens in die gemeenskappe waarin ons besigheid bedryf. Senwes is veel meer as net landbou".