Die implementering van dekgewasse op ’n tradisionele saaiplaas bly egter ’n probleem by baie boere en dit verg ’n verandering in denkwyse en sekere praktyke om die proses van grondopbouing aan die gang te sit, soos om rooi braaklande te verander in dekgewasweidings.
Om by hierdie probleem verby te kom, is dit nodig om te verstaan hoe die natuur werk en wat die basiese reëls vir grondgesondheid is. Grondgesondheid is afhanklik van koolstof en hoe meer doeltreffend die koolstofsiklus in die grond kan plaasvind, hoe beter die resultate en voordele vir elke produsent. Die vinnigste groei in grondgesondheid vind plaas as die volgende reëls gevolg en gehandhaaf word:
1. Permanente organiese bedecking
2. Konstant aktief-groeiende wortels
3. Diversifisering van gewasse
4. Minimale grondversteuring
5. Implementering van ‘n veefaktor
Permanente organiese bedekking Dit het tot gevolg dat die grondtemperatuur daal, verdamping van vog uit die grond word verlaag, winderosie word verminder, waterafloop word vertraag en wateropname in die grond word verhoog. Hoë grondtemperature veroorsaak die afsterf van grondmikrobes en dit is waarom die natuur sy eie grondbedekkers (onkruid en ongewenste spesies) stuur sodra die grond blootgestel word. Hierdie bedekkers is gewoonlik giftig, onsmaaklik of vol dorings om te verhoed dat die plante nie bewei word nie. Die grond word op hierdie manier bedek om vir meer gewenste spesies die toestande te skep om te vestig.
Konstant aktief-groeiende wortels Plante vorm die leikanaal van gratis koolstof in die lug. Hierdie koolstof word deur fotosintese in die blare gebind en word in suikervorm dan weer deur die wortels uitgeskei in ruil vir minerale en ander voedingstowwe. Die suikers be - staan uit ’n groot deel koolstof (C6H12O6) en dien ook as voedselbron vir grondmikrobes. Plante en mikrobes lewe dus in simbiose met mekaar.
Diversifisering van gewasse Verskillende plante lok verskillende mikrobes met behulp van die suikers wat hulle afskei, byvoorbeeld peulgewassse teenoor grasagtige tipes. Dit is ook belangrik om wortels op verskillende dieptes in die grond te hê ten einde grondmikrobe-aktiwiteit soveel as moontlik te stimuleer. Laasgenoemde word verkry deur gewasse met verskillende worteltipes te plant om so effektief moontlik deur al die gronddieptes te versprei. Daar kan gekyk word na gewasse met penwortels en ander met bywortels en selfs plante met fyn vertakte wortels of dikker sywaartse wortels.
Die verskillende wortels in die grond lok en vermeerder verskillende tipes grondmikrobes. Dit skep dan ’n omgewing met ’n beter balans tussen verskillende tipes grondlewe. Die gevolg is dat ‘n situasie ontstaan waar die gewenste mikrobes die ongewenste mikrobes laat verminder. Laasgenoemde kan ook help om sekere probleme soos aalwurm aan te spreek.
Minimale grondversteuring Wanneer enige wortels of gedeeltes van wortels afsterf na beweiding of aan die einde van die groeiseisoen, vorm daar lugkanale in die grond wat deurlugting veroorsaak en ook die grond se vogindringingsvermoë baie verhoog. Dit is bekend dat daar aerobiese en anaerobiese mikrobes in die grond voorkom en sodra grond byvoorbeeld geploeg word, beland die verskillende mikrobes in ongunstige suurstofvlakke en gaan dood.
Verder word al die lugkanale en grondstrukture wat gevorm is, deur die ploegaksie verbreek en grondverdigting kan weer plaasvind. Die grootste nadeel is egter die dood van die mikrobes. Omdat grondmikrobes hoofsaaklik uit koolstof bestaan, bind daar suurstof aan die dooie mikrobekoolstof en vorm CO2 wat vlugtig is en in die lug verdwyn. Hierdie vervlugtiging is die grootste verlies van grondkoolstof in Suid-Afrikaanse landbou.
Implementering van ’n veefaktor Daar is ’n balans tussen bogrondse plantmassa en die hoeveelheid ondergrondse wortels van plante. Sodra diere van die bogrondse blare en stingels vreet, verklein die fabriek wat die suikers moet produseer en sterf daar van die fyner en swakker wortels onder die grond af omdat daar nie genoeg energie beskikbaar is nie. Sodra daar weer nuwe blare gevorm word, groei daar weer nuwe wortels en so gaan die proses aan. Hierdie wortels wat afsterf, bestaan ook uit koolstof en is deel van die grondkoolstofopbouproses in die grond.
Diere wat dekgewasaanplantings bewei, versnel dus die hele grondkoolstofproses onder die grond, maar help ook met die afbreek van enige plantreste wat bo die grond beskikbaar is deur die dier se spysverteringskanaal, tot ‘n medium wat dan baie makliker afbreekbaar is vir die grondmikrobes.
Dekgewasmengsels moet oordeelkundig saamgestel word met die klem op grondgesondheid, maar ook om as ’n hoë kwaliteit weiding gebruik te kan word. Produsente kan dan hierdie aspek gebruik om ekonomiese vergoeding vanaf die diere terug te kry, terwyl die gronde verbeter en opgebou word.
Agricol het die Agrilife Grazer dekgewasmengsels ontwikkel om aan die volgende kriteria te voldoen:
• Agrilife Grazer 12 is ’n somermengsel wat bestaan uit ’n basis van verskillende voersorghums, babala, akkerbone en ook sekere peulgewasse. Die mengsel kan geplant word vanaf Oktober tot Februarie.
• Agrilife Grazer 2 is ’n wintermengsel wat bestaan uit verskillende groeilengtes hawers, stoelrog, radyse en ook wieke. Planttyd is vanaf Februarie tot einde Mei.
• Agrilife Grazer 21+ is ’n gevorderde multispesie grondopboumengsel met 21 en meer verskillende gewasse, wat somer- en wintergewasse insluit. Die beste planttyd vir Agrilife 21+ is Januarie en kan weiding of bedekking verskaf tot einde Oktober. Hierdie mengsel is ideaal om te gebruik by oorlêlande.
Deur die drie hoofgroepe plantspesies te gebruik, naamlik grasagtige tipes, knolgewasse en ook peulgewasse, word grondgesondheid baie vinniger verbeter. Die kombinasie verskaf ook ‘n baie hoë kwaliteit weiding vir vee.
Onoordeelkundige samestelling van mengsels kan maklik plaasvind as daar nie van die verskillende gewaseienskappe in ag geneem word nie, soos: plantdigtheid, planthoogte, groeiwyse, groeitempo, kompetisie, ligbehoefte, sinergisme, allelopatie en duplisering en dit kan veroorsaak dat die regte resultate nie verkry word nie en boere mag die gevoel kry dat dit nie werk nie. Verder is dit ook belangrik dat die produk steeds bekostigbaar moet wees.
Die grootste uitdaging van die aanplant van dekgewasmengsels is die beskikbaarheid van ideale grondvog en ook die feit dat grondvog opgegaar moet word vir die volgende graangewas. Deur die hoogte van die dekgewas te beheer met beweiding, sal die waterverbruik van die dekgewas verlaag word, maar dit moet op so ’n manier gedoen word dat die grondoppervlak nie te veel blootgestel word en verdamping weer verhoog nie. Omdat die grond se waterhouvermoë verdubbel met elke 0.5% toename in koolstof, sal gronde waarop die reëls van grondgesondheid toegepas word, later meer water opgaar as lande wat braak lê.
Grondopbou is egter ’n lang proses en daar is nie ’n kitsoplossing nie. Die implementering van dekgewasse is ’n stap in die regte rigting en ook ’n oplossing vir onderpresterende gronde.
Kontak gerus vir Dawie du Plessis by
071 852 1707 of jou naaste Agricol-agent, of besoek die webtuiste by
www.agricol. co.za vir ’n aanbeveling in jou area.