In ʼn gesamentlike verklaring meen die twee organisasies dat die gebrek aan hulpbronne daartoe bydra dat misdaadtonele nie doeltreffend ondersoek word nie, en vermeld dat in sommige gevalle speurders eers dae nadat ʼn saak aangemeld is hul opwagting maak. Die direkte gevolg hiervan is dat baie veediefstal-voorvalle nie aangemeld word nie, omdat boere hul vertroue in die wetstoepassingstelsel verloor het.
Volgens Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, wil dit voorkom asof die polisie nie veediefstal as ʼn prioriteit beskou nie. Hiermee saam meen Isabel Kruger, voorsitter van die Veediefstalvoorkomingsforum (VVF) dat die tekorte aan hulpbronne net toeneem sonder enige daadwerklike ingryping van die polisie se topbestuur.
“Vir boere lei hierdie situasie tot ekonomiese ondergang wat die landbousektor ernstig ondermyn. Dan praat ons nie eens van die uitwerking wat dit op opkomende en bestaansboere het nie,” verduidelik Le Roux. Gevolglik waarsku beide Le Roux en Kruger dat die voortgesette voorvalle van veediefstal bykans as ekonomiese sabotasie van die landbousektor beskou kan word.
Dr Jane Buys, ʼn veiligheidsrisiko-ontleder verbonde aan die VL, sê dat uit veediefstal-voorvalle wat aangemeld word, daar boerderygemeenskappe is wat verliese van tot R10 miljoen per jaar aanmeld. Gebiede wat veral deurloop sluit in Brandfort, Ladybrand, Heilbron en Fouriesburg.
Veediefstal is ʼn georganiseerde misdaad wat toenemend deur misdaadsindikate bedryf word en volgens Dr Buys is die betrokkenheid van verskeie rolspelers in die polisie, soos die Valke, die eenheid vir georganiseerde misdaad en misdaadintelligensie nodig om hierdie sindikate te stuit.
Die VL en die RPO stel dit onomwonde dat die polisie sy verpligting moet nakom om hulpbronne beskikbaar te stel om die voortbestaan van die landbousektor in die Vrystaat te help verseker. Dit beteken dat die toetrede van die regering en die minister van polisie ʼn kritiese noodsaaklikheid is.