Voedingstoftekorte verhoog die vatbaarheid van diere vir die meeste infektiewe siektes en verhoog ook die moontlikheid van sekondêre infeksies. Vitamien- en spoormineraaltekorte verlaag beide die immuunfunksie sowel as weerstand teen spanning betekenisvol, selfs al is die dier se voeding in terme van energie en proteïen voldoende. Voeding het die grootste inpak op morbiditeit (voorkoms van siektetoestand) en mortaliteit (voorkoms van vrektes) gedurende die eerste maand na aankoms by die voerkraal.
WAT IS DIE PROBLEEM?
Die immuunstelsel word deur spanning onderdruk en veroorsaak veral respiratoriese siektes (longontsteking) in die eerste 30 tot 45 dae na aankoms by die voerkraal. Longe van gesonde kalwers kan die infeksie van verbasend hoë konsentrasie van bakterieë weerstaan. As die dier onder spanning is, kan relatief klein lading van bakterieë tot longontsteking aanleiding gee.
Voeding het die grootste impak op die immuniteit van die liggaam gedurende die eerste twee tot vier weke, maar veral binne die eerste paar dae na aankoms by die voerkraal. Diere onder spanning het tipies ’n lae vrywillige voerinname. ‘n Bydraende faktor tot swak inname is die aanpassing van die rumen by maklik verteerbare (stysel) gedurende hierdie spanningstyd. Indien hierdie aanpassing nie korrek gedoen word nie, vind metaboliese steurnis (suurpens) maklik plaas. In hierdie geval daal inname en staak selfs, permanente skade kan aan die rumenwand gedoen word, ontwatering vind plaas, swak vertering van voer wat ingeneem is en die immuniteit word geweldige uitgedaag.
Die probleem is dus om genoeg voedingstowwe in die dier te kry, juis vir die wat dit die nodigste het. Voldoende sleutelvoedingstowwe in die liggaam verhoed of verlaag die voorkoms van spanningsverwante massaverlies, immuunonderdrukking, morbiditeit en mortaliteit as sekondêre simptome van longinfeksies.
WAT IS IMMUNITEIT TEEN INFEKSIE?
Diere bied weerstand teen infeksie deur van nie-spesifieke aangebore (‘innate’) meganismes en spesifiek verworwe (‘acquired’) meganismes gebruik te maak. Eersgenoemde sluit in epiteelweefsel wat die liggaamsoppervlakte bedek soos die vel, hoef en kornea asook die belyning van die liggaamsopeninge (respiratoriese, urogenitale en verteringstelsel) wat ’n fisiese weerstand bied teen infeksieagente wat die liggaan kan binnedring. Laasgenoemde is waar blootstelling aan vreemde infeksie-agente (antigene) tot die ontwikkeling van immuunselle en antiliggame spesifiek teen hierdie betrokke agente aanleiding gee. Spesifieke immuniteit neem tyd om te ontwikkel en is daarom effektief om infeksie te voorkom, slegs as die dier voorheen aan hierdie spesifieke agent blootgestel was. ’n Voedingstoftekort beïnvloed nie alle immuunmeganismes dieselfde nie en beïnvloed ook nie een spesifieke meganisme dieselfde vir verskillende antigene nie. ’n Groep diere wat ’n voedingstoftekort het, mag genoegsame anti-liggaamreaksie teen sekere antigene (of entstof) toon en ’n onderdrukte reaksie teen ’n ander antigeen toon. Soortgelyk, onder praktiese omstandighede, kan diere met tekorte meer vatbaar wees vir sekere, maar nie al die siekteveroorsakende organismes nie. Dit s hoekom net ’n sekere persentasie van diere simptome toon terwyl al die diere aan die betrokke infeksie blootgestel was.
WAT IS DIE VOEDINGSBEHOEFTE VAN DIERE ONDERHEWIG AAN SPANNING?
Beide akute (onmiddellike) en uitgerekte (twee tot sewe dae) spanning beïnvloed diere nadelig, maar dit is laasgenoemde wat die dier meer vatbaar vir infeksie maak. Omstandighede wat spanning vir diere veroorsaak is hantering, vervoer, fisiese trauma, uitputting, vastoestande van beide voer en water, ongewone omgewing, vreemde ander diere, ensovoorts. Hormone soos kortisol, adrenalien, noradrenalien aldosterone, beta-endorfiene en enkefalien word gedurende spanning afgeskei. Hierdie geïnduseerde hormone wat die metabolisme van die diere beheer en verander, onderdruk die immuunstelsel deur kritiese voedingstowwe uit te put wat vir ‘n effektiewe immuunreaksie nodig is. Kroniese spanning het ‘n wesenlike invloed op hierdie prosesse deurdat metaboliese weë van anaboliese (groei) na primêr kataboliese (afbreek van proteïene en vet) verander word.
WAT IS DIE EFFEK VAN SIEKTES OP DIE VOEDINGSTATUS?
Infeksie gee aanleiding tot ’n opeenvolging van metaboliese reaksies wat die voedingstatus van die diere beïnvloed. Voerinname verlaag tipies met meer as 50% by beeste met respiratoriese infeksie en koors, wat tussen 10 en 14 dae neem om na normal terug te keer. Gedurende hierdie tyd verhoog die behoefte van feitlik al die voedingstowwe, al word die voeding van groei na immuniteit verander. Proteiene moet vir die immuunreaksie, ontwikkeling en opklaring van koors asook die herstel van sel- en weefselskade, vervaardig word. Verder vind ’n verhoogde verlies aan belangrike minerale soos magnesium, kalium, fosfaat en sink plaas. Die hoof ekstrasellulêre elektroliete, natrium en chloried word ook deur die hormonale verandering beïnvloed. Urinêre uitskeiding van sout verhoog gewoonlik tydens ‘n periode van infeksie en wat tot dehidrasie aanleiding kan gee. Die liggaam sal dan reageer deur liggaamsoute en water terug te hou. Diarree kan direk tot die voorkoms van natrium-, chloried-, kalium en bikarbonaatverlies in die mis aanleiding gee. Dit blyk of die immuunstelsel ’n prioriteit bo voedingstowwe vir groei het. Dit word ’n duur proses indien immuniteit geaktiveer word. Voedingstowwe wat vir immuniteit nodig is, is nie vir groei of produksie beskikbaar nie en sal die groeitempo sowel as voeromsetting nadelig beïnvloed. Uitermatige immuunreaksie vermors nie net voerbronne nie maar kan ook permanente selskade en lae produktiwiteit veroorsaak.
WAT IS DIE INVLOED VAN VOEDINGSTATUS OP DIE WEERSTAND TEEN INFEKSIE?
Goeie voeding verbeter die weerstand van diere wat onder spanning verkeer. Spanning veroorsaak afskeiding van hormone wat immuniteit onderdruk. ’n Goeie voedingstatus stel die dier in staat om die nodig immuunreaksie volgens behoefte te aktiveer en te onderhou. Oor die algemeen het voeding die grootste invloed op die gesondheid van die kalf gedurende die eerste maand op voer en in die besonder diere onder hoë spanning en/of ligte kalwers. Baie diere wat by ’n voerkraal aankom is aan ‘n tekort van ’n aantal spoorminerale onderhewig, veral as die dier direk van ‘n tipiese ekstensiewe natuurlike weidingstelsel afkomstig is. Daaglikse rantsoene moet met voldoende spoorminerale en vitamienes aangevul word. Hoër as normale konsentrasies van hierdie voedingstowwe met aankoms kan vir die verlaagde vrywillige inname van voer gedurende hierdie periode vergoed. Na die beeste van die spanninggeïnduseerde immuunonderdrukking herstel het en by die aanvanklike voer aangepas het, sal normaal gebalanseerde voer genoegsame voedingstowwe voorsien om aan die behoefte van die immuunfunksie te voldoen. Met aankoms by ’n voerkraal moet die stimulasie van ‘n smaaklike (hoogsverteerbare) voerinname en waterinname as prioriteit gesien word. Daar is weinig voordeel om duur voedingstowwe en/of produkte by ‘n onsmaaklike voer te voeg. Navorsing het aangetoon dat dit tot ’n week kan duur voordat al die diere in ’n kraal konstant elke dag voer inneem. Ligte kalwers toon die eerste twee weke ’n voerinname van slegs 1,5% van lewendige massa. Enige poging om die voerinname na aankoms te bevorder, verkort die periode wat die immuunstelsel geaktiveer moet bly
WAT IS OPTIMALE IMMUNITEIT?
Die optimale immuunreaksie is een wat die kortste duur, laagste intensiteit het en die patogeen suksesvol uitskakel. Die immuunstelsel moet so min as moontlik geaktiveer word met ’n skoon en veral droë omgewing. Verlaagde spanning kan produktiwiteit verhoog, selfs in die afwesigheid van ’n siektetoestand. In gesonde diere is daar ‘n metaboliese keuse tussen groei en immuniteit – beide kan nie terselfdertyd voorrang geniet nie. In teenstelling met ‘n aangepaste voerkalf, is die voerkalf onder spanning in ’n nadelige situasie deurdat groei deur die voedingsaanvraag van immuunaktiwiteit (inenting en/of siekteblootstelling), reaksie op eksterne spanning en herstel van korttermyn voedingstoftekorte benadeel word. Die aangepaste of gesonde kalf het die potensiaal om op sleutel voedingstowwe te reageer wat immuunreaksie ondersteun en wat betekenisvolle beter groei en verbeterde immuniteit, indien nodig, sal toon.