Die titel is syne
Om mee te begin het Johan spreekwoordelik al sy rekeninge betaal as dit by hierdie Pick 'n Pay, Landbouweekblad en Breedplan se Stoetteler van die Jaar-kompetisie kom. Hy het nie net die 2016 kompetisie gewen nie, maar het ook in 2015 tweede gekom en spog ook met ʼn skaflike derde plek in 2014. Buiten die titel was hy ook die 2016 Noordwes LNR streekswenner.
Oor sy Boerdery op Schoemansfontein
Johan boer op die plaas Schoemansfontein tussen Klerksdorp en Hartbeesfontein in die Noordwes provinsie en besit BTB Simmentalers (Boekenhout Trust Boerdery). Dié siviele ingenieur het in 2003 sy boerdery juis hierheen geskuif om nader aan sy plaas te wees, wat sowat 1 019 ha beslaan, waar 180 vroulike diere gehou word.
Waar het alles vir hom begin?
Die gebore Klerksdorper vertel dat sy pa, Sampie, in 1977 in Rooiberg tussen Warmbad en Thabazimbi geboer het. Johan het met Simmentalers grootgeword nadat die familie dié ras in 1965 ingevoer het. Hy noem dat hy in die begin met beide Simbras en Simmentalers geboer het maar, in sy eie woorde, het “die Simmentalers die Simbras op hierdie plaas uitpresteer.”
Ontwikkelingsbestuur is sy dagtaak
Die naweekboer, soos hy homself noem, praat passievol oor sy werk en boerdery: “Ek doen net wat lekker is vir my,” lag hy terwyl sy Pointers, Kaizer, Tarka en Rommel, om ons baljaar. Johan het jare se kennis en ervaring in die ingenieursveld. Hy het ’n B. Ing graad in 1980 behaal en daarna sy B. Ing (SIV) (Hons) in 1986. Na ‘n paar jaar by ‘n raadgewende siviele ingenieursfirma het Johan sy eie ingenieursbesigheid, MDCC, in 2000 in Klerksdorp op die been gebring. Hy was die Besturende Direkteur maar fokus nou meer op sy spesialisveld, naamlik ontwikkelings- en projekbestuur.
Oor Voeding
Om mee te begin gaan dierevoeding vir hom eenvoudig oor twee dinge, naamlik kwaliteit en prys. “By dierevoeding is ek altyd bereid om meer te betaal vir tegnologie. Die regte voeding van bulle is van groot belang omdat elkeen van hulle moontlik ‘n stoetbul kan word.”
Genetika teenoor voer
Daar is ʼn ou gesegde: “half the breeding is in the feeding.” Dit beteken in kort dat jy ʼn baie gewone bees baie goed kan laat lyk deur voeding want vet steek foute weg. Maar, voeg Johan gou by: “Dis nie waarnatoe ek op pad is nie.”
Hy beperk ook die beeste wat hy skou, omdat voeding eintlik die werklike genetiese potensiaal verbloem. “Voeding verbloem ook die belangrike enkele element, naamlik vrugbaarheid,” sê hy. Johan verduidelik dat in ʼn goeie jaar, al die koeie dragtig raak. Maar daar is altyd ook die minder vrugbare koeie in elke trop. Die afgelope droogte wys hierdie mindere vrugbare koeie uit.
‘n Paar geheime van BTB se beesboerdery
Johan het ‘n paar geheime van sy beesboerdery met ons gedeel:
- Omdat marges klein is, moet jy die beste beskikbare tegnologie en genetika gebruik en elke faset reg doen, want dit is wat presisieboerdery behels.
- Vrugbaarheid is 50% van die suksesresep – “Met ’n swak kalf, het jy darem nog iets om te verkoop. Maar as jy geen kalf het nie, het jy niks om te verkoop nie.”
- BTB se vroulike diere hardloop ‘n hekkieswedloop. As hulle oor enige hekkie nie kom nie, word hulle uitgeskot. Die eerste hekkie is om dekgewig te bereik op 13 maande en in 45 dae dragtig te raak en daarna elke jaar ‘n kalf suksesvol te speen.Indien al jou koeie dragtig raak, beteken dit dalk jy spandeer te veel aan byvoeding en is daar te min druk op vrugbaarheid in jou kudde om regtig enige genetiese vordering te maak.
- Johan se projekbestuurbenadering kom baie handig te pas. Op speendag word al die genetiese metings gedoen. Om bestuur te vergemaklik en groot druk op vrugbaarheid te plaas, is daar slegs ‘n enkele jaarlikse dekseisoen van 45 dae.
- Koop die regte voer aan vir die regte doel en maak seker van die naverkoopdiens.
- Die belangrikste ding met betrekking tot voeding is dat jy die hulpbronne tot jou beskikking optimaal moet benut.
* Kyk gerus uit vir die tweede deel van die artikel in die volgende uitgawe.