Vyf jaar gelede op 63 het Piet, of Piet Lentedou soos hy bekend staan, se boedery anders gelyk. Danksy genade het sy seun en skoonseun oornag deel van die boerdery geword. Pieter Ferreira en Cassie de Vries het by die boerdery aangesluit. Pieter, ’n vlieënier, en Cassie, wat Bosbou en Natuurlike Hulpbronne studeer het, het nuwe lewe in die boerdery geblaas. En, sê Piet Lentedou, glo dit of nie, hier is drie Piet Ferreira’s wat in dié sandgeweste boer.
DIE BEGIN
Piet het in 1975 begin boer en oorgeneem by sy pa Lou, wat ’n winkel in die gebiedbedryf het, Lentedou Kontantwinkel. Lou was in 1947 die bestuurder van die Senwes handelstak in Tierfontein, waarna hy in 1954 begin boer en sy winkel bedryf het.
Dit is by sy pa en medeprodusente in die gebied waar Piet die basiese beginsels van boerdery geleer het. Hy het begin met 150 hektaar koring en 300 hektaar mielies en vandag, na 43 jaar, het hy ’n sterk boerdery opgebou. Nog ’n interessante feit is dat sy pa ook die eerste graangraderingskursus in 1940 by Senwes bygewoon het.
VERTAKKINGS
Sedert 2013 het hulle aktief die boerdery aangepas. Hulle het aanvanklik 95% mielies en 5% koring geplant. In 2014 is met 100 hektaar sonneblom begin en die jaar daarna 40 hektaar sojabone onder besproeiing. Die boerdery het soveel verander dat hulle in die 2018/19 seisoen slegs 37% mielies gaan plant, gevolg deur sonneblom (24%), sojabone (19%), klein witbone (7%), koring (7%) met 6% lande wat oorlê. “Dit is omdat die mieliesom alleen redelik moeilik haalbaar is,” sê Pieter en Piet.
Met sy seun Pieter wat die saaigedeelte hanteer, is skoonseun Cassie besig met die pekanneute wat hulle 5 jaar gelede begin aanplant het.
Vir Cassie is pekanneute, 10 500 bome om presies te wees, ’n leefwyse waar sy harde werk oor ’n paar jaar vrugte vir dié boedery gaan begin afwerp. Hy plant Wichita- en Navahobome, 12 by 6 meter op 75 hektaar vir meer sonlig en benut so die grond en water meer effektief.
Wanneer die bome heeltemal te groot raak kan hy bietjie uitdun. Hy glo ook in ’n binneveld kwekery sodat hy plante van soortgelyke ouderdom kan oorplant in die plek van dié wat beskadig is. Soos hy die takke sorgvuldig snoei noem hy: “Die takke is die fabriek maar die stam is die voedingsaar.
As hy raad vir prodsusente kan gee: “Koop eerder ’n R300 plant as ’n R200 een, en wag liewer ’n jaar en plant ’n geënte boom.”
FILOSOFIE
Piet het ’n drieledige filosofie oor boerdery. Hy was in 1973 ’n landbouvoorligter in Bophuthatswana en glo dat winderosie, grondtemperatuur en reënval die drie belangrike aspekte is. Hulle het na 40 jaar ’n moontlike wenresep om dié drie hok te slaan. Soos ons in die lande loop, trap jou stewels nie weg in die los sand nie, maar hoor jy kraakgeluide soos jy op die reste trap so tussen die rye stoppels van die vorige seisoene. Danksy hulle 8-reeks John Deere trekkers en implemente kan hulle twee rye 76 cm uitmekaar plant, met die ander twee rye wat weer 1,5 m verder is.
Winderosie: Die stoppels stop winderosie in sy voetspore en al stofwolk wat ek gewaar, is al langs die grondpaaie na die lande.
Grondtemperatuur: Soos ons die grondmonsters onder die reste vergelyk met die wat nie bedek is nie, is die verskil voelbaar - sommer baie grade koeler.
Reënval: Piet grou skaars 10 cm onder die reste om nou, middel September, by klam grond uit te kom en so word die 500 mm reënval per jaar meer effektief benut. Sowaar spreek dit al drie aspekte perfek aan.
Met minimum bewerking plant hulle op die rye van twee seisoene terug met verlede seisoen se stoppels nog netjies regop. So bring dit ’n heel ander perspektief aan die naak, warm, droë en sanderige beeld van hierdie deel van die Vrystaat.
Soos jy dieper grou kom jy, glo dit of nie, by organiese materiaal uit. Piet se droom is om die sisteem so perfek te kry dat sy kleinkinders by ander plase sal moet gaan kyk hoe die sandwêreld lyk. Pieter, wat deel van die 2018 Syngenta Graanakademie was, voeg by dat hy graag wil glo dat hy eendag op ‘n erdwurm of twee sal afkom.
Piet se filosofie oor boerdery is dat winderosie, grondtemperatuur en reënval die drie belangrike aspekte is.
SENWES
John Deere trekkers en ‘n skaalmodel in die vertoonkas verklap dat hulle John Deere en Senwes klante is. Pieter vertel dat die RTK veral krities vir hulle is en dat geen stelsel naby dit kom nie - prys, diens en presisie is uitstaande. Hulle het ook ’n produksielening by Senwes en ‘n deel van hulle graan word deur Senwes bemark. By Senwes maak hy spesiale melding van sy takbestuurder Gerhard van der Ryst, landboubesigheidsbestuurder Vonnie Haarhoff en silobestuurder Jurie Maree: “As ek ’n probleem het, sal hulle dit beslis altyd vir my kan oplos.”
GEES BY BULTFONTEIN
Hulle noem dat ‘n lekker gees onder die produsente by die Midde-In Studiegroep heers, waar hulle reeds aan ’n Amerikaanse toer beplan.
MENTORS
Hy het 21 werkers en hy glo dat kennis aan werkers oorgedra moet word. Hulle tree as mentor op vir Ruben Motlhabane, ’n opkomende produsent. “Ons is sy huidige mentors en deel alle inligting met hom. Hy weet wat ek weet. Hoe gaan dit lyk as sy oes sleg is en mense hoor ek is sy mentor,” noem Pieter en Piet voeg by hoe ‘n lekker gevoel dit is wanneer Ruben sukses behaal.
Die driemanskap se raad aan ander produsente is dat politiek uit jou hande is, maar dat ons moet saamstaan en veg vir wat ons wil hê. Piet sê laastens: “Leer jou lewe lank soveel as wat jy kan. By dié plaas gebeur dinge, danksy harde werk en natuurlik genade van Bo.” Piet en sy vrou Marianne, hul kinders en dié se beter helftes Pieter en Colene, Gretha en Cassie asook hul ander dogter Rinda wat met ‘n boer van die omgewing, Willem du Plessis, getroud is, se boerdery is op die regte pad. En met agt kleinkinders is hierdie boerdery se toekoms ook in goeie hande en het hulle geen planne om te vlug nie.