Landboukundige en sleutelrekeningbestuur by Senwes, Julias Ramohlabi, verduidelik dat daar verskillende fases is waardeur opkomende boere moet gaan tydens die program.
Daar is eerstens ad hoc-boere, opkomende boere wat in die Intensiewe Ondersteuningsprogram is en dié wat reeds die program suksesvol voltooi het.
Voordat 'n opkomende boer in die program aanvaar word, moet 'n hulpbron-evaluasie gedoen word.
Hulpbronevaluasie, soos byvoorbeeld grondklassifikasie, word gedoen om die grondpotensiaal van die plaas te bepaal, naamlik of die grond 'n hoë, medium of marginale potensiaal het. Dit word gevolg deur aanbevelings, byvoorbeeld of kalktoedienings moet plaasvind, die tipe oes wat die boer behoort te plant, landboupraktyke, soos byvoorbeeld of hy eerder moet ploeg of rip.
Wat is die belangrikste voordele van die Senwes ondersteuningsprogram?
Die boere kan toegang kry tot finansiële bystand deur Senwes Credit. Daarbenewens kan hulle ook tegniese advies bekom deur middel van 'n mentor en hulle verkry marktoegang vir hul produkte.
Basies 'n Eenstopwinkel
Julias dui met oortuiging aan dat opkomende boere Senwes as hul 24/7 Eenstopwinkel beskou. Daar is voordele aan verbonde om deel van die program te wees, soos opleiding en blootstelling aan 'n aantal ander segmente in die wêreld van landbou. Senwes hou hulle ook ingelig oor Safex, verhandeling en stel hulle voor aan graanverkrygers, ensovoorts.
“Ons begin meestal heel voor met die opkomende boere.” En wie beter as Julias om hulle deur die program te neem? Julias het 10 jaar ondervinding by Senwes. Hy is in 2007 as junior landboukundige aangestel en is later bevorder tot landboukundige. In 2016 is hy tot sleutelrekeningbestuurder bevorder, wat beteken dat hy die totale portefeulje van opkomende boere hanteer.
5-jaar mentorskapprogram
Julias verduidelik dat die boere in die Intensiewe Ondersteuningsprogram 'n intensiewe moniteringsproses deurloop. Hy voeg by dat hy hulle minstens een maal per week op hul plase besoek, soms meer dikwels indien nodig. Na afhandeling van die 5-jaar mentorskapprogram ontvang hulle 'n Sertifikaat van Erkenning.
Daar is tans 'n paar boere op die program, soos Herbert Mabuza en Wesley Monyatsi, om maar 'n paar te noem, waarop ook gefokus is in vorige uitgawes van die Senwes Scenario. Hierdie opkomende boere is deur die Senwes gebied versprei met 'n paar in Vereeniging, Randfontein en Ventersdorp. Julias vertel dat die boere wat reeds op die program is, grond besit van tussen 125 hektaar en 600 hektaar elk.
Ad hoc-boere
Boere wat nie in die intensiewe fase is nie, vorm deel van die sogenaamde ad hoc-boere. Julias sê dat hierdie groep opkomende boere groter is as die groep in die Intensiewe Ondersteuningsprogram. Dié boere besit oor die algemeen minder as 100 hektaar grond. Ons besoek hulle en verleen ondersteuning op 'n daaglikse basis, gewoonlik sommer op pad na die boere in die intensiewe fase.
Boere wat die program voltooi het
Boere wat die Sertifikaat van Erkenning ontvang het is dié wat die intensiewe fase voltooi het. Hulle is nou meer onafhanklik en boer op hul eie, maar met Senwes op bystand.
Waarom word opkomende boere ondersteun?
Die kort antwoord is dat daar baie uitdagings is wat hulle in die gesig staar. Die probleem is dat opkomende boere sukkel met die verskaffing van sekuriteit en titelaktes. Hulle het dikwels ook nie die nodige meganisasietoerusting nie. Ons kontrakteer dan iemand om sekere funksies uit te voer omdat hulle boerderye nie lewensvatbaar genoeg is om die finansiering van meganisasietoerusting te regverdig nie want die terugbetaalvermoë ontbreek.
Gratis
“Die ondersteuningsdienste word gratis aan opkomende boere verleen - Senwes dra al die koste,” sê Julias. Hy voeg by dat die GFADA (Grain Farmer Development Association) hulle ook ondersteun aangesien hulle betaal vir grondregstelling en versekering.
Ons het hulle nodig
Julias beklemtoon dat dit 'n noodsaaklike proses is omdat "ons die boek deur ontwikkelingsprogramme moet vergroot. Dit is noodsaaklik om opkomende boere te ontwikkel omdat ons hulle nodig het."