Kripbestuur van voerkrale




Hantering veroorsaak spanning by diere en moet dus tot die minimum beperk word. Span­ning verlaag die immuni­teit (siekteweerstand) en versteur die normale vreetgedrag wat lae voerinname en dus produksie veroorsaak. Diere het ᾿n baie konstante en voorspelbare droëmateriaal­inname as persentasie van die lewende­massa per dag (±2.5%). 

Maksimum voerinname is ᾿n voorvereiste vir maksimum en normal groei. Voerinname mag nie ten koste van die dier se gesondheid wees nie. Voerinname is ᾿n funksie van voerverteerbaarheid en vreetgedrag of spanning. Hoe beter die voer gebalanseer of geformuleer is, hoe beter sal die verte­ring en gevolglike voer- en energie-inna­me wees. Hoe minder spanning die dier ervaar, hoe meer stabiel en normaal sal die gedrag en beter die vrywillige inname van voer wees. Hoë voerinname verseker hoe energie-inname wat tot die beste produksieresultaat aanleiding gee. 

Daaglikse beskikbaarheid van koel, vars en goeie kwaliteit drinkwater is ᾿n kernbelangrike voorvereiste vir normale voerinname en goeie produksie in die voerkraal.

GROEIFASES, AANPASSING EN MARKGEREEDHEID
Om die korrekte bestuur te kan toepas moet diere in verskillende fases van groei en klasse ingedeel word. Die fases verwys na die groeistadium in die kraal, bv. beginfase, groeifase en afrondingsfase. Die doel van die fases is om diere so gou moontlik by ᾿n al hoër energie-inhoud (stysel) van die voer aan te pas om maksimum energie-inname te verseker. Elke fase se voer verskil in voedingstofsamestelling en die aanpassing by hierdie voer moet daagliks gekontroleer word, veral aan die begin van elke fase. Die voerinname en fisiese missamestelling is ᾿n belangrike aanduiding van hoe goed die rumen en aangepas die dier is. 

Die klasse verwys na bv. geslag, tipe (ras) en begin lewendemassa. Dit is ᾿n voordeel om klasse diere so homogeen as moontlik te hou aangesien elke klas ‘n eiesoortige gedrag en/of groeitempo het. Die homogene klasse van diere is om onderlinge spanning tot die minimum te beperk.
 
FORMULASIE, VERMENGING EN PROSESSERING VAN VOER
Die basis van kripbestuur is om die korrek geformuleerde voer vir elke groeifase van die dier te verskaf. Daar moet seker gemaak word dat die regte voer vir die regte diere gevoer word aangesien elke fase se formulasie verskil. 

Die voer wat in die krip verskaf word moet deur die dag in die krip vermeng bly. As die vesel in die voer te veel of te lank is, is dit geneig om in die krip van fyn materiaal te skei. Dit veroorsaak ongeba­lanseerde voerinname en kan tot selektiewe metaboliese steurnisse aanleiding gee. Tipies word dan te stywe en te slap mis in een kraal ondervind. 

Effektiewe toerusting, betroubare toesig en kundigheid vir die daaglikse vermenging van voer is gebiedend noodsaaklik aangesien dit die korrek geformuleerde voer bepaal. Die aange­wese voginhoud van voer is tussen 25 en 30%. Dit dra by tot beter vermenging en verhoed stowwerigheid van voer. 
Laasgenoemde verlaag die voorkoms van longinfeksie.
 
BESKIKBAARHEID VAN VOER EN VOERROETINE 
᾿n Voerkraal veronderstel dat voer na die diere aangery word. Vars voer moet dus elke dag gemeng en aan diere in die krip verskaf word. Diere word vinnig met ᾿n roetine gekondisioneer en enige aktiwiteit wat hierdie gewoonte of ritme versteur skep spanning. Elke dier ontwikkel ᾿n vreetgedrag – hy vreet ᾿n sekere tyd vandie dag en gee weer ᾿n volgende dier kans om ᾿n sekere tyd te vreet. Vir hierdie rede moet verkieslik elke dag dieselfde tyd van die dag gevoer word. 

Indien ᾿n tipiese 07:00 tot 18:00 werksdag vir ᾿n kraal gevolg word en voer word twee keer per dag verskaf, bv. 07:00 en 14:00, is die ooreenstemmende tyd tussen hierdie voedings onderskeidelik 7 en 17 ure. Die daaglikse voermassa moet ook hierdie vreettyd verteenwoordig en word 30% van die daaglikse voer in die oggend en 70% in die middag verskaf.

STIMULASIE EN BEPALING VAN VOERINNAME
Hoe beter die voerinname, hoe beter is die produksieprestasie in die voerkraal. Swakker as verwagte voerinname is die voorspel tot swak vleisproduksie en die eerste teken van spanning wat deur ᾿n siektetoestand soos metaboliese steurnis (suurpens, infeksie) of die omgewing (wind, reën, lugdruk, sosiale druk) veroor­saak word. Oor ᾿n 24-uur periode is daar met aangewese kripspasie ge­noeg tyd dat elke dier maksimum voer sal kan inneem.

Die geluide, vertoon en vars reuk van die voerproses stimuleer voerinname - hoe meer kere hoe beter. In praktyk word twee- en soms driekeer per dag gevoer. Krippe moet verkieslik nie heeltyd gevul wees nie aangesien daaglikse inname akkuraat gemeet moet kan word en nuwe voer op ou voer kan begin muf. Elke krip moet elke dag eenkeer heeltemal leeggevreet of skoongemaak word. ᾿n Handige be­­stuursmaatreël is om daagliks ᾿n kriptelling van elke krip te hou. Dit is ᾿n eenvoudi­ge 3- of 4-punt skaal, van blink tot min gevreet, om aan te toon of die afgelope dag se voer te min was en of daar spanning/fout in die kraal is. 

Die smaak en reuk van voer het ᾿n aanvanklike invloed op die inname van voer. Die belangrikste volhoubare stimulasie vir vrywillige inname is die maksimum verteerbaarheid van die voer wat deur ᾿n korrek geformuleerde voer en gesonde rumen-omgewing bepaal word.

ONTWERP VAN VOER- EN WATERKRIPPE
᾿n Reg ontwerpte voerkrip is noodsaaklik vir goeie kripbe­stuur. Die kripspasie in ᾿n kraal moet ±250mm per bees wees. Al die diere vreet nie gelyk nie en is daar ’n onderlinge rangorde, wat binne ’n paar dae bepaal word, wat die vreetgedrag en vreetroetine in ’n kraal bepaal. Die bakmaat van die krip moet ook ten minste 70% van die swaarste diere se daaglikse rantsoen (tweede voeding) maklik sonder vermorsing kan hou. Voer wat uit die krip mors, is onnodig. Oor naweke met beperkte mannekrag en werkstyd, kan hierdie maatreël ’n probleem veroorsaak. Die vloer by die krip moet vir ten minste 2.5 tot 3 meter met ’n sementvloer uitgelê wees wat maklik dreineer en afdroog. 

Vars water moet daagliks beskikbaar wees en weg van die voerkrip af. Waterkrippe lek dikwels wat ’n broeiplek vir parasiete is en vermy moet word. Groen alge vorm ook maklik in waterkrippe wat gereeld skoongemaak moet word. 

Kraaldigtheid is belangrik om onnodige sosiale spanning te bestuur. Voldoende oppervlakte per dier is nodig (10 – 15m2, gemiddeld 12.5 m2). Met nat weer kan diep mis/modder ontstaan. Diere hou nie daarvan om in modder te staan nie en moet mis wat opbou met tyd verwyder word. Modder in krale inhibeer voerinname betekenisvol. Die vloer in die kraal word fyngetrap en veroorsaak gedurig stof wat voldoen­de met byvoorbeeld waterspreiers beheer kan word.
 
IDENTIFISERING VAN SIEK DIERE
Deel van kripbestuur is om siek en onaangepaste diere daagliks te identifiseer. Die algemene siektes wat voorkom is rumenaanpassing (pap mis en opblaas), infeksieverwant (longe, pote) of fisiese besering. Hoe gouer ‘n dier geïdentifiseer of ‘getrek’ word en die nodige behandeling kry, hoe gouer kan die dier herstel.
 
REKORDHOUDING
’n Belangrike deel van kripbestuur is die rekordhouding van daaglikse waarnemings van voerinname en welstand van diere. Hierdie syfers gee belangrike tendense weer wat bestuur moet word om oor tyd die produktiwiteit en winsgewendheid van die voerkraal te verbeter.