Volgens die WLO spruit die eenparige verlenging van De Jager se mandaat deur nasionale landbou-unies oor die wêreld heen uit die beperkinge wat Covid-19-inperkings op die blootstelling en ontwikkeling van ʼn volgende generasie leierskap gehad het. Landbouleiers voel hulle het nie na behore geleentheid gehad om opvolgkandidate se vaardighede te ervaar nie, en daarom kon hulle nie ʼn weloorwoë keuse vir ʼn opvolger maak nie.
Behalwe hiervoor, is De Jager instrumenteel tot vyf internasionale berade wat nog in 2021 afgehandel moet word, wat ʼn groot invloed op die wêreldwye boerdery-omgewing kan hê, naamlik:
- COP26-klimaatsberaad in Glasgow,
- G20-beraad oor Zero Honger,
- VN se Groei-en-voedingberaad,
- CBD COP15-beraad oor biodiversiteit en die,
- VN se Voedselsistemeberaad (waar De Jager in die sentrale koördineringskomitee dien).
Geskiedkundige opgang as internasionale agri-leier
De Jager het in 2017 geskiedenis gemaak toe hy die eerste Suid-Afrikaner geword het wat as president van die WLO verkies is. Dit het gevolg nadat hy as erelid van die Commercial Farmers’ Union (CFU) VAN Zimbabwe genomineer is. Twee jaar later, in 2019, word De Jager die eerste president van die WLO wat vir ʼn tweede termyn herkies is.
Die direkteur-generaal van die VN, QU Donqyu, skud dr Theo de Jager, president van die WLO se hand by die FAO se hoofkantoor in Rome.