Toename in gevalle van AVP rede tot kommer

  • 05 Maart 2021
  • 1975
  • nuus



Kotzé is van mening dat dit belangrik is dat die varkbedryf deurlopend goeie biosekuriteitsmaatreëls toepas, en dat meer gedoen moet word om die uitdaging van AVP binne die konteks van klein varkboerderye aan te spreek. “Die ondoeltreffende bestuur van AVP kan negatiewe gevolge op die hele land se bedryf hê,” verduidelik Kotzé en verwys na Sjina waar dié virus bykans 20 miljoen sôe uitgewis het.

Meer gevalle aangemeld

Mees onlangs is ʼn uitbreek van AVP op ʼn plaas buite Potchefstroom bevestig, waar bykans 100 besmette varke gevrek het. Dié uitbreek was die eerste geval wat vanjaar in Noordwes aangemeld is, en dit is in hierdie stadium nog onduidelik wat die bron van die besmetting was.

Die Potchefstroom-eenheid is gevolglik onder kwarantyn geplaas en het die staat het ingetree. Volgens Kotzé is besmette vleis bruikbaar en het dit nie ʼn negatiewe uitwerking op die mens nie, maar die besmette diere moes van kant gemaak word om varkkuddes in omliggende gebiede te beskerm.

ʼn Geskikte plek is uitgewys om die dooie varke te begrawe. Die nodige regulasies is nagekom en ontsmetting met die toediening van onder meer kalk, is gevolg. Dit neem sowat drie maande voordat klein varkies weer op die perseel geplaas kan word nadat toetse eers gedoen word, om vas te stel of die virus steeds op die spesifieke perseel teenwoordig is.

Volgens dr Peter Evans, ʼn veearts aan die stuur van verbruikerssekuriteit by Savpo, was daar die afgelope twee jaar ʼn toename in uitbrekings buite die gekontrolleerde sone, wat ʼn gedeelte van Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en ʼn deel van KwaZulu-Natal insluit. Uitbrekings het ook gedurende hierdie tyd in die Oos-Kaap en Vrystaat voorgekom.

Gevaarligte

Kotzé meen veilings is die grootste bron van ongereguleerde biosekuriteit. “Die enigste wyse waarop AVP bestuur kan word, is deur goeie biosekuriteitsmaatreëls en op veilings is dit ongelukkig nie die geval nie,” sê hy.

Die beweging van diere is ʼn groot oorsaak van die verspreiding van AVP. By die betrokke eenheid in Potchefstroom was daar nie ʼn voldoende heining gewees waar die diere aangehou word nie, en toegangsbeheer is nie voldoende gereguleer nie. Die voer wat toegedien is, was ook nie gesertifiseer nie, wat die risiko aan blootstelling vergroot het.

Volgens Kotzé is die toepassing van korrekte biosekuriteitsmaatreëls meer uitdagend vir kleiner boere. Dit gaan oor die ekonomie van skaal en in baie gevalle is dit bloot te duur vir kleiner produsente om die korrekte maatreëls te volg. “Ons sit met ongereguleerde produksiestelsels in Suid-Afrika en dit bly ʼn risiko vir selfs die gereguleerde stelsel,” sê Kotzé en voeg by dat die uitdaging is om seker te maak dat beide gereguleerde stelsels én kleiner stelsels op biosekuriteit fokus en méér nog onverskrokke meedoen aan die basiese riglyne.