Stygende insetkostes lei tot moeiliker produksiejaar – Francois Strydom

  • 06 Augustus 2021
  • 1344
  • nuus



Só meen Francois Strydom, Senwes Groep Hoof Uitvoerende Beampte. In die lig hiervan maan hy produsente en landbou-ondernemings om hulself te staal vir ʼn moeiliker 2021-2022 produksiejaar weens stygende insetkostes.

“As ʼn mens net op ʼn prysgrondslag vergelyk, gaan dit beslis ʼn moeiliker jaar as die vorige een wees. Maar Suid-Afrika is steeds in ʼn goeie siklus uit ʼn gewasproduksie-oogpunt,” sê Strydom en voeg by dat die verwagting is dat insetkoste per hektaar soos volg gaan styg: saad met 15-18%, kunsmispryse met 35%, kalk met 2-3%, chemiese middels met 12-1% en brandstof met tussen 13-15%. As dit kom by die onderhoud van werktuie, voorsien Strydom dat herstelwerk vanjaar 12-14% duurder sal wees terwyl oesversekering 2-4% meer gaan kos.

“Rentekoerse beweeg wel sywaarts, maar ons sien al hoe meer dat banke versigtig is en hul aptyt vir risiko verminder,” verduidelik Strydom en voeg by dat daar ʼn gevoel is dat hulle ʼn prysregstelling moet doen omdat rentekoerse voorheen te veel afwaarts aangepas is. In die lig hiervan skat Strydom dat die koste van krediet met 4% kan styg weens instansies wat leningskoerse aanpas.

Strydom het sy gedagtes rondom die impak van stygende insetkostes in ʼn onderhoud met Landbou.com gedeel. Hier is wat hy te sê gehad het:

Risiko deels verskans

Strydom wys daarop dat baie produsente danksy 2020-2021 se goeie oes reeds in Februarie vanjaar heelwat van hul insette vir die volgende produksiejaar aangekoop het en sodoende hulself in ʼn mate teen die stygende pryse verskans.

“Produsente sal altyd vir jou sê die enigste manier om uit die skuld van moeilike jare te kom, is om jou daaruit te boer. Saaiery se skuld word net deur saaiery se winste betaal, en dit is wat nou gebeur – ook in die komende plantseisoen,” sê Strydom.

Vergeleke met ʼn jaar gelede was daar skerp stygings in die prys van brandstof, kunsmis en chemikalieë, die belangrikste uitgawes saam met saad vir somergraanboere.

Verhandeling van die rand

Volgens Strydom is die rand wel sterker teenoor die dollar as ʼn jaar gelede, maar die wisselvalligheid van die wisselkoers maak besluitneming en beplanning moeilik.

Strydom verwag nie dat die rand teen planttyd veel verder sal afwyk van die band van R13-R14/$ waarin hy tans beweeg nie. “Selfs die traumatiese gebeuretoe een van Suid-Afrika se provinsies omtrent in sy geheel geplunder en afgebrand is, het nie ʼn beduidende skade aan die rand aangerig nie,” meen Strydom.

* Lees die volledige artikel op Landbou.com: https://bit.ly/3igCpu9