Prysrisikobestuur-alternatiewe vir die 2017-18 bemarkingseisoen




Aan die einde van ʼn seisoen is dit gewoonlik maklik om terug te kyk en te weet wat die korrekte tydsberekening vir prysrisikobestuur deur middel van verskansing was. ʼn Produsent moet egter tevrede wees met die realiteit dat verskansingsbesluite vir  ʼn oes, wat dalk nog geplant en gewoonlik nog gestroop moet word, wel geneem word op grond van die inligting wat op daardie spesifieke tyd beskikbaar was. Die termynmark het egter ten doel om die invloed van toekomstige prysverwagtinge of onsekerheid tot  ʼn groot mate te verdiskonteer. Dit maak egter nie ʼn verskansingsbesluit makliker nie, aangesien die toekoms deurlopend onseker bly en dienooreenkomstig sal reflekteer in die termynmarkprys soos wat inligting verander. 
 
Verskansing op die JSE Landbou Kommoditeitsmark (SAFEX) bly nieteenstaande die enigste deursigtige manier om prysrisiko deur middel van verskeie alternatiewe te bestuur en teenpartyrisiko af te dek. Senwes Marktoegang kan deur middel van die produsentegraanbemarkers, asook Senwes Graanmakelaars, van hulp wees met verskeie voorseisoen bemarkingskontrakte en verskansingsalternatiewe wat sal inpas by elke produsent se individuele risikoprofiel. Die risikoprofiel van  ʼn produsent is sekerlik een van die belangrikste kenmerke wat in ag geneem moet word voor  ʼn verskansingsbesluit geneem word. Dit is verder belangrik dat die produsent duidelik verstaan wat die implikasies is wanneer ʼn verskansingstrategie geïmplementeer word ten einde enige misverstande in die toekoms te vermy.  
 
Teen hierdie agtergrond, met die inligting tans tot ons beskikking (Tabel 1), vervat Tabel 2 vier verskansingsalternatiewe met hul voordele en nadele en  ʼn voorgestelde risikoprofielpassing. Vanuit Tabel 1 word dit duidelik dat plaaslike voorraad tans meer as voldoende is en dat uitvoere en verbruik teen die heersende tempo nie die surplus sal verklein nie. Weervooruitsigte vir die komende seisoen lyk gunstig en beoogde aanplantings dui daarop dat voorraadvlakke waarskynlik op hoë vlakke sal bly. VSA pryse verhandel hoofsaaklik in  ʼn sywaartse band, maar die rand is ʼn buiteperd wat die potensiaal het om heersende uitvoerpariteitsprysvlakke noemenswaardig te lig. Daar bestaan dus  ʼn groot risiko dat pryse onder druk kan bly en selfs onder uitvoerpariteit kan daal. Uitvoerpariteit self kan egter styg  na gelang van  ʼn verswakking van die rand, wat die pryse kan ondersteun. Met hierdie inligting in gedagte is die vier verskansingsvoorstelle gemaak wat in Tabel 2 vervat word.
 
Vir meer inligting, kontak asseblief u naaste graanbemarkingsadviseur (verkryger). Alternatiewelik: Frans Dreyer - Graanmakelaars  (018 464 7786), Hansie Swanepoel - Markinligting (018 464 7575) of Hennie du Plooy – Produsente Graanbemarking (083 388 4968), vir meer inligting rakende die beskikbare bemarkingsalternatiewe. 
 
Tabel 1: Fundamentele faktore en potensiële prysdrywers vir die komende seisoen
Untitled Document
Prysdrywer
Verwagting
Plaaslike voorraad
  • Rekord 2016-17 oes realiseer meer as voldoende voorraadvlakke met die verwagting dat oordragvoorraad ten minste 3,5 keer die benodigde pyplynvoorraad kan wees.
Uitvoere
  • Heersende bemarkingsjaar - uitvoertempo glad nie voldoende om surplusscenario aan te spreek nie.
  • Geelmielie-uitvoere het wel geredelik plaasgevind na Japan, Suid-Korea en Taiwan. Hierdie uitvoere sal na verwagting sporadies voortduur vir die res van die bemarkingsjaar.
  • Witmielie-uitvoere was hoofsaaklik na die tradisionele BNLS lande met Kenya wat ook heelwat GM-vrye witmielies geneem het. Noemenswaardige witmielie-uitvoere word ook nie verwag nie aangesien die ander groot verbruiker van witmielies, Meksiko, voldoende voorraad het. Meksiko sal ook die nagenoeg $22/mt invoerheffing wat geld vir lande anders as die VSA, moet ophef of Suid-Afrika se witmielies sal dienooreenkomstig goedkoper moet raak vir uitvoere om te realiseer.
Plaaslike verbruik
  • Plaaslike verwerking van witmielies vir menslike en veral veevoerverbruik is kumulatief bo-gemiddeld vir die bemarkingsjaar.
  • Die hoë tempo kan toegeskryf word aan die daling in mieliepryse sedert strooptyd en die feit dat die wit- en geelmielieprysverskil die nodige waarde gebied het vir veevoervervaardigers om te verander van geel- na witmielies.
In- en uitvoerpariteit
  • Plaaslike geelmielies op ʼn skip gelaai in Durban hawe was vir die grootste deel van die bemarkingsjaar heelwat duurder as mielies gelaai op ʼn skip in die VSA Golf, Brasilië, Argentinië en Oekraïne.
  • Die hoofrede hiervoor is hoofsaaklik die hoë koste van pad- en spoorvervoer wat verband hou met die swak toestand van spoorvervoer- infrastruktuur.
  • Die liggingsvoordeel wat SA het teenoor die VSA en Suid-Amerika na lande in Asië veroorsaak egter wel dat Suid-Afrikaanse geelmielies vir die grootste deel van die bemarkingsjaar uiters kompeterend geprys was vir uitvoere.
  • Plaaslike mieliepryse verhandel dus effektief nader aan uitvoerpariteit, maar die koste van vervoer na die hawe, asook meer as voldoende wêreldvoorraad, plaas ʼn demper op uitvoerpotensiaal.
VSA pryse en die rand/dollar
  • Die invloed van die VSA-mielieprys en die rand sal nader aan uitvoerpariteit ʼn groot rol speel in prysbewegings.
  • VSA eindvoorraadvlakke is ook meer as voldoende en die heersende prys-bandverwagting is tussen $3.20 en $3.95 per skepel vir die res van die seisoen.
  • Die rand is ʼn tameletjie van sy eie en die wisselvalligheid in die geldeenheid kan nie genoeg beklemtoon word nie.
  • Onsekerheid rakende die politieke omgewing en gepaardgaande ekonomiese stabiliteit dra grootliks by tot die volatiliteit van die rand.
  • Die VSA dollar neig ook al hoe sterker met ekonomiese aanwysers wat dui op ʼn stelselmatige herstel in ekonomiese vooruitsigte. Die verwagting van gepaardgaande rentekoersverhogings sal beleggings in die VSA waarskynlik laat vergroot, wat die dollar dienooreenkomstig verder sal versterk teen ander geldeenhede.
Weervooruitsigte
  • Langer-termyn weervooruitsigte dui tans op 'n goeie kans vir die realisasie van ʼn normale tot swak La-Niña (natter) seisoen gedurende die vroeë en midsomermaande van November tot Februarie.
  • Vroeë somermaande (November tot Januarie) sal egter na verwagting warmer wees as normaal vir die groter deel van die produksiegebied, waarna dit sal normaliseer vir die res van die groeiseisoen.
Implikasie van voorneme om te plant
  • Beoogde plantsyfers is einde Oktober vrygestel.
  • Verwagte hektare aangeplant het wel afgeneem van verlede jaar af, maar slegs in lyn getrek met die 10-jaar gemiddeld wat nie persentasiegewys ʼn groot genoeg afname is om die surplussituasie aan te spreek nie.
  • Beoogde plantsyfers realiseer gewoonlik en neem selfs toe. Die enigste seisoene waar hektare wel afgeneem het, is wanneer dit vir produsente fisies nie moontlik was om te plant nie (gewoonlik te wyte aan droë toestande).
Untitled Document

Tabel 2: Verskansingstrategieë
Minimumprys (Put opsie) - Lae risiko
Voordele:
Beskerm teen dalende prysbewegings.
Nadele:
Opsiekoste duur - naby uitvoerpariteit.
Belangrik om in ag te neem:
Markpryse beweeg elke seisoen meer as die opsiepremie. Indien die prys styg en daar is meer oessekerheid, kan die opsie terugverkoop en ʼn gedeelte van die opsiepremie teruggekry word.
Sintetiese minimumprys (Vastepryskontrak en koop call- opsie) - Medium risiko
Voordele:
Beskerm teen dalende prysbewegings.
Potensiële laer opsiekoste as suiwer minimumprys.
Nadele:
Daar word nie gedeel in prysstygings tussen die vasteprysvlak en uit-die-geld call- opsie trefvlak nie.
Belangrik om in ag te neem:
Indien die markprys bo die call-opsie trefvlak inbeweeg, sal dit sinvol wees om die strategie te heroorweeg ten opsigte van winsneming deur die call-opsie terug te verkoop. Hierdie opsiepremiewins kan dan by die vasteprysvlak getel word.
Vasteprys - Hoë risiko
Voordele:
Beskerm teen dalende prysbewegings.
Geen opsiekoste.
Nadele:
Kan glad nie deel in opwaartse pryspotensiaal nie.
Belangrik om in ag te neem:
'n Vasteprysstrategie hou definitiewe lewerings- of duur uitkooprisiko in.
Die mark styg gewoonlik aggressief as daar ʼn groot fundamentele verskuiwing plaasvind soos ʼn midsomerdroogte in ʼn kritiese fase van die groeiseisoen.
Die nodige produksie is dan dalk nie eers daar om te lewer teen die laer vasteprys nie.
Senwes Kollektiewe Pryskontrak (KPK) - Lae risiko
Voordele:
Beskerm teen dalende prysbewegings.
Tonne van produsente wat deel vorm van die produk, word gesamentlik deur middel van een of meer vasgestelde strategie verskans deur die loop van die produksieseisoen.
Nadele:
Opsiekoste kan duur wees indien die mark hoofsaaklik laer en sywaarts beweeg deur die seisoen.
Belangrik om in ag te neem:
Benut opwaartse pryspotensiaal aktief en objektief deur middel van vasgestelde strategiese beginsels.