Met wild is die Crous broers op koers




Hulle het soos hulle dit stel “maar groot geword op die plaas”. Hulle voeg by dat dit  ʼn enorme voorreg is om saam te kan boer en dit wat hulle weet, hulle by pa Viljee en ma Wilma geleer het – “Gesien hoe dit gedoen moet word.” Die wawiel-logo by die ingang van die plaas Wilgerboom bevestig dat die manne werklik skouer aan die wiel sit.

Eerste veiling in Februarie

‘n Groot stap vir die Crous broers is dat hulle op 25 Februarie vanjaar hulle eerste veiling by Sun City hou, waaraan hulle al drie jaar lank werk. Daar gaan nie minder nie as  740 stuks wild onder die hamer kom. Van swartwitpense, tot buffels en leeus om net ‘n paar van die twee hande vol spesies op te noem. Vir hulle is dit werklik ‘n waterskeidingsoomblik. En hoewel dit die eerste keer is, is hulle al vir jare deel van Kroonstud in Kroonstad. Maar waar kom hulle sukses vandaan?

Hul motto

In kort is dit “drome wat ons uitleef.” Dit is hul dryfveer. Daarmee gekoppel is dit ook vir hulle lekker saam te kan boer. Een droom wat waar geword het is die groot droom om die wildboerdery te vestig. Hulle het reg aan die begin gesien dat daar baie uitdagings is, maar hulle het dit oorkom om kampioene in die wildbedryf te word.

Wildtelers van die Jaar

Die veiling in 2016 volg op nog ‘n eerste groot titel. Juis vanweë al hul suksesse dra hulle tans die 2015 WRSA (Wildtelers van die Jaar)-kroon. Hulle is baie trots hierop en aanvaar die titel met baie nederigheid. “Dit is ʼn erkende organisasie. ‘n Groot voorreg, want hulle is die bekendste en grootste organisasie,” sê Riaan. David voeg by: “Dit sê iets. Ons doen iets reg.” Maar hulle het dit nogtans nie verwag nie en “dit bly ‘n baie groot eer en prestasie”, voeg Kobus by.

Van beeste na wild

Die drietal is nog steeds besig om aan hul droom te skaaf. “Ons het die doel gehad  om eendag ons beesboerdery tot niet maak en ons is bitter baie naby daaraan.” Die afgelope 14 jaar het hulle van 'n 100% veekomponent na 90% wild en slegs 10% beesboerdery beweeg. “Ons wou nie te veel te vinnig gedoen het nie. Dit was vir ons is ook ʼn nuwe ding.” Alles is met landbougeld gekoop, so dit is nie geleende kapitaal nie. Bestuur is belangrik en elke jaar is  ʼn ander spesie aangekoop. Hulle het met ander woorde ook met wild gediversifiseer om risiko’s uit te skakel. Hulle benadering is baie konserwatief, en wat meer is, hulle hou mekaar terug en bou op die boeremanier uit.

Saai en aartappels ook

Die saaiboerdery het uitgebrei soos wat hulle dit kan hanteer en hulle werk hoofsaaklik op ‘n ruslandstelsel, waar hulle jaarliks sowat 1 000 ha plant. Daarbenewens verbou hulle ook aartappels op droë land.

Stelselmatige uitbreiding

Met al die uitbreiding het hulle al omtrent 90% van hulle lande se kampe reeds toegespan en sowat vyf jaar terug het hulle ook bestuurders aangestel met die oog daarop om groter te gaan.

Broers werk saam

Elke deel van die vertakking word aan gewerk en hulle vul mekaar mooi aan, met Kobus en David wat op die saaiboerdery fokus, Riaan op die beeste, David en Riaan saam op die wild en Kobus wat ook op die aartappels en mielies fokus. Elkeen het sy plaas, met Kobus wat op Grootkuil boer, David op Wilgerboom en Riaan op

Geduldfontein.

Familievas, vyfde geslag

Die drie is die vyfde generasie boere in die familie.   Kobus is al 21 jaar met Janetta getroud, Riaan is 15 jaar met Marié getroud en David is 13 jaar gelede met Frané getroud. Die drie broers werk daaraan om ‘n  struktuur vir hulle kinders daar te stel. Daar is tussen die drie broers ook al ses potensiële sesde generasie boere, naamlik Wilmari en Adriaan, David en Ané asook Sarina, Viljee en Wilma. Kobus, Riaan en David het ook ‘n ouer broer Maans (51), wat op sy plaas Welgelegen boer.

Senwes

Senwes speel natuurlik ook ‘n groot rol in hul bestaan. Hulle is almal klante by Senwes en doen aankope deur Senwes.  Hulle praat veral van die goeie diens wat hulle by Louis Lingenfelder kry asook die maatskappy wat veral in die gemeenskap betrokke is.

Dae soos Senwes se toekomsfokusdag

Die Crous broers dink geleenthede soos die Senwes Toekomsfokusdag in 2015, waar ook op wild gefokus is, gaan baie prominent word. Sodra  ʼn ding soos wild begin groei moet daar inligting uitgeruil word.  Daar moet 'n plek wees waar jy vrae kan vra. Belangrik hier is die sifting van inligtingsdae, wilddae, ensovoorts. “As jy jou eie ding wil doen, gaan jy pakslae kry. Jy sal moet skoolgeld betaal”.

Droogte en wild

Vir hulle was die afgelope winter en droogte voordelig in die sin dat dit baie goedkoper is om ʼn bok te voer as  ʼn bees. Maar met wild moet jy ook baie beplan en tef aanplant. Senwes Scenario het die manne juis in die droogtetyd besoek en hoewel dinge nog goed gaan, is hulle versigtig oor die toekoms. “Oor agt maande vertel ons dalk ʼn ander storie,” meen David. Soos jy die gebied binnery is dit maar droog in Kroonstad. “Hier is niks. Jy sien hoe lyk die lande hier. Absoluut niks”, vertel hulle. Die vraag bly altyd: Waar gaan jy tef kry?

Die droogte sal tot gevolg hê dat baie boere dit nie gaan maak nie.  Realisme is nou van die uiterst belang en die Crous broers bevestig dat hulle positief bly.

Raad aan nuwe wildboere

Eerstens is dit nooit te laat om met wild te begin boer nie. Hulle begin met: “ʼn Bok is joune tot die dag wanneer jy hom verkoop. Dit is ʼn langer termyn som wat jy moet maak.” Anders as beeste. Tweedens, het 'n mens nie miljoene nodig om te begin nie. Hulle sê dit is ‘n wanpersepsie is en dat daar goedkoper spesies is waarmee begin en op gefokus kan word met dieselfde inkomste, persentasiegesproke.

Wanneer met wild begin word, is dat belangrik dat jy in staat moet wees om die boerdery vir vyf jaar te kan dra. “Ons is boere, ons is nie smouse nie.” Die koste per hektaar en insetkoste van 'n wildsboerdery is laer en die inkomste baie hoër - beeste en skape hou eenvoudig nie meer by nie. 'n Verdere voordele is dat wild nie gesteel word nie en dit is ʼn nisproduk.

Moet kan kanse vat om bo uit te kom

Soms moet mens kanse vat. Toe die Crous broers die wildsboerdery in Kroonstad begin het, het hulle ‘n kans gevat. “Almal het gelag en gesê ons diere gaan hier vrek . Hier raak dit baie koud.” Maar met slim planne dra die diere se kondisie hulle deur die winter.  Die gebied is ook baie gesonder weens minder parasiete, wat 'n bedekte seën is. Alhoewel hulle tans die kruin van die golf ry, hou die broers mekaar op die grond en hulle voete geanker met die wete dat alles wat bereik word van die Here af kom. Mens weet nooit wat die toekoms bring nie. David som dit mooi op: “Dinge lyk nou goed, maar dit kan in 'n oogwink verander.”  Wees egter verseker, die Crousbroers is op koers!.