Ladingontwikkeling – Deel 1




Die herlaai van ammunisie het die afgelope aantal jare behoorlik posgevat onder veral jagters nadat die kuns al ʼn geruime tyd hoofsaaklik deur skyfskietskuts beoefen is. Die algemene redes hiervoor kan saamgevat word in die bekostigbaarheid van herlaaide ammunisie en die wye keuse van herlaai komponente. Die hoofrede vir herlaai is gewoonlik dat ʼn skut deur middel van die wye keuse van komponente in staat gestel word om pasmaakammunisie te herlaai wat optimaal presteer in ʼn spesifieke vuurwapen.
 
Die ontwikkeling van ʼn lading vir ʼn spesifieke geweer is egter soms makliker gesê as gedaan! Daar bestaan werklik nie ʼn moeitelose tegniek nie en tyd op die baan is onvermydelik. Hierdie tyd op die baan moet egter natuurlik reg benader word om te verseker dat veral die kostebesparende effek van herlaai wel realiseer. 
 
Verskeie ladingontwikkelingtegnieke is verder algemeen in gebruik. Hierdie tegnieke wissel op die uiterste van die skiet van 5 skootgroepe in 0.5gr inkremente vanaf die minimum tot die maksimum lading soos aanbeveel deur die kruitvervaardiger, tot die gebruik van die QuickLOAD program om ʼn gidslading te identifiseer. Eersgenoemde is gewoonlik ʼn tydrowende en duur proses aangesien die skut ten minste 10 groepe van 5 rondtes sal moet skiet net om daarna nog groepe te gaan laai om verder te verfyn tussen die beste groepe. Die menslike foutfaktor asook omgewingsfaktore speel natuurlik ook ʼn groot rol tydens die groeperingskietsessies. QuickLOAD aan die ander kant wen tans goeie veld onder herlaaiers. Die probleem is egter dat min herlaaiers wat dit aankoop werklik verstaan hoe die program werk en wat nodig is om ʼn veilige gidslading vir jou geweer te bepaal. Een berekeningsfout met QuickLOAD kan katastrofiese gevolge inhou. Daar is egter QuickLOAD spesialiste beskikbaar wat die berekeninge namens kliënte teen ʼn koste doen. Heelparty skuts is al suksesvol op hierdie manier gehelp, wat die koste- en tydbesparende voordele van QuickLOAD soos ʼn paal bo water laat uitstaan. 
 
Hierdie artikel gaan egter fokus op die veiliger metode vir die deursnit herlaaier, naamlik die Inkrementele Ladingsontwikkelingsmetode wat ontwikkel is deur die Fransman, Creighton Audette. Herlaaiers praat sommer van die ladder of sweet spot-metode. Hierdie metode werk goed en die artikel gaan addisioneel tot die standaard metode  ʼn verdere bevestigingsmetode verduidelik wat die herlaaier sal help om die korrekte skoot in die sweet spot-bondel te identifiseer vir groeperingstoetse. 
 

Hoe werk die ladder metode?

 
Die beginpunt is gewoonlik om die nodige komponente aan te skaf. Die keuses van koeëls, slagdoppe, dopfabrikaat en dryfmiddel is gewoonlik ʼn interessante gesprek in eie reg, maar nie die fokus hier nie. Dit is egter belangrik dat die herlaaier seker maak dat alle komponente binne die nodige spesifikasies en vervaardigersaanbevelings is vir die spesifieke kaliber waarvoor die lading ontwikkel gaan word.
 
Hierna is die minimum lading vir die gekose koeël en tipe kruit soos aanbeveel deur die kruitvervaardiger die vertrekpunt. Laai een koeël met die minimum lading en daarna een koeël in inkremente van 0.2gr of 0.3gr.  As ʼn reël word 0.2gr inkremente aanbeveel vir kalibers kleiner as 6mm en 0.3gr vir kalibers groter as 6mm. Mens kom egter gouer baie nader aan die waarheid met 0.2gr inkremente. Gestel die aanbevole minimum lading is 40gr, dan sal die daaropvolgende ladings 40.2gr, 40.4gr, 40.6gr ensovoorts wees, totdat die maksimum aanbevole lading bereik word.
 
Elk van hierdie rondtes word dan op 300m geskiet deur elke keer op dieselfde mikpunt of merker op die teiken aan te lê. In die geval waar jou teleskoop se vergroting nie noodwendig geskik is om gemaklik op 300m te skiet nie sal 200m ook aanvaarbaar wees. Die rede vir 300m is hoofsaaklik om beter te onderskei tussen die vertikale verspreiding van die rondtes op die teiken. Dit is dus belangrik om elke skoot noukeurig op die teiken aan te dui. 
 
Die uitdaging om elke keer 300m te stap en die skoot op die teiken te merk is ook reeds op vele innoverende maniere oorkom. Sommige skuts maak gebruik van ʼn videokamera by die teiken wat die proses afneem, waarna hulle rustig die skote kan aandui deur na die opname te kyk. Ander merk die koeëls deur hulle in te kleur met verskillende kleure permanente merkers. Elke koeëlgat kan dan uitgeken word deur die kleur aan die betrokke lading te koppel. Dit bly egter belangrik dat hierdie proses nie haastig afgerammel moet word nie en dat die geweerloop tussen skote voldoende kans gegee moet word om af te koel.
 
Die doel van hierdie oefening is om die vertikale verspreiding van skote te evalueer en die areas waar skote bondel of waar die vertikale verspreiding klein is, te identifiseer. Die teorie is dan dat mens drie of vier ladings van die skote in die bondel kies, daarna 5 rondtes van elke gekose lading laai en groeperingstoetse op 300m skiet waarna die beste lading geïdentifiseer kan word na aanleiding van die kleinste groep. Drie skote as groeperingstoets kan as voldoende gesien word, maar ʼn menslike fout of die invloed van omgewingsfaktore kan veroorsaak dat onsekerheid bestaan oor “daai een” skoot. Gebruik dus ten minste 4 skote om seker te maak van ʼn groepering.