Die veranderende landbouomgewing
Om mee te begin. Toe die landboulandskap verander het, het sekere besighede primêr in die hande van lede gebly, terwyl ander weer die net wyer gegooi en die waardeketting uitgebrei het. Dit gaan hier oor waar dit die produsent nou eintlik laat, wat landboubesighede se huidige rol is en in wie se belang hulle optree.
Hier gaan dit in realiteit oor die plek en doel van ʼn landboubesigheid en waar hy inpas, eintlik daaroor dat hierdie rol deurentyd en by herhaling herontdek moet word. Die sakesektor in die wêreld het volgens my van die 1990’s eintlik so bietjie die spoor verloor, met baie wat gesê het dat alles oor die aandeelhouer gaan. Aandeelhouers is sekondêr. Dit gaan eerste oor die klant, personeel, insetverskaffers en die gemeenskap, en as alles logies werk, dan sal die aandeelhouer vergoed word. Die kruks is dat al hierdie dinge in balans moet wees.
Die rol van leierskap
Die rol van ‘n leierskap is om die omstrede onderwerpe na die voorgrond te bring. ʼn Leier mag nie kies om net oor die veilige onderwerpe te praat nie. Daar moet oor die groter goed ook gepraat word, anders gaan jy verseker nie bepalend wees nie.
By die definisie van die rol van leierskap gaan dit oor die rol van leiers om hul organisasies en maatskappye na plekke te neem waar hulle nie die nodigheid insien om heen te gaan nie, maar later dankbaar is dat hulle wél daar uitgekom het - dit bly ’n goeie opsomming hiervan. Dit word slegs bereik deur goeie leierskap. ‘n Leier bereik hierdie vlak deur harde werk, asook intense nabetragting. Hy kyk twee tot drie bulte vooruit deur nie slegs die daaglikse planne na te volg nie, maar ‘n langtermynstrategie na te streef. Hy moet visie hê - dit is eintlik wat leiers veronderstel is om te doen.”
Wat is ‘n landboubesigheid?
Die feit is dat baie landboubesighede in die laaste 110 jaar aangepas het om by die nuwe omstandighede in te pas.
Soos reeds genoem, het landboumaatskappye in die verlede in verskillende rigtings ingebeur. In die lig hiervan moet daar absoluut seker gemaak word dat alle partye van dieselfde ding praat, as hulle van landboubesighede praat. Vir my is dit ‘n verkeerde aanname om te sê landboubesighede behoort net aan produsente. Dit is dieselfde as om te sê banke behoort net aan bankiers? Jy beperk jouself ongelooflik baie. My vraag is hier: Wat het dit op die ou einde met jou strategie te doen?
Goeie visie is ’n absoluut kardinaal
‘n Besigheid moet ’n goed gedefinieerde visie hê, wat enkelvoudig klem lê op die uitvoering van sy sakeplan. Hier gaan dit oor strategie en visie. In Senwes se geval: Wat is die doel van Senwes? Die klant gaan nie die doelstellings van Senwes kan opnoem nie. Sê hier eerder waarvoor staan Senwes, Senwes gaan oor een ding en dit is om oplossings vir sy klante te gee sodat hulle besighede beter kan wees.”
Uit die produsent se oogpunt
’n Produsent doen vandag sake met wie ook al op die spesifieke terrein beweeg waar hy sake wil doen. Hy doen sake met wie ook al die beste belanghebbende op daardie spesifieke terrein is. Die produsent kan nie meer bekostig om op ’n sentimentele grondslag sake te doen nie.
Natuurlik sal al hierdie belanghebbendes verskillende meganismes hê om die produsent se besigheid te bekom. Dit gaan oor hul eie langtermynvisie ten opsigte van die klant. Hoe dien hulle die klant se belang? Bied hulle spesiale lojaliteitsprogramme aan? Hoe belê hulle in hul besigheid om die klant se besigheid te bekom?
’n Hele reeks van hierdie normale kommersiële praktyke lei daartoe dat die produsent uiteindelik met daardie spesifieke besigheid sy sake doen. Natuurlik is dinge soos prys, reeks en diens belangrike aspekte in sy keuse.
Senwes het byvoorbeeld in die laaste paar jaar meer as R200 miljoen in die silobesigheid belê. Hier is dit belangrik om in die infrastruktuur te belê en natuurlik is dit die regte ding om te doen. Jy moet ʼn bepaalde houding hê. Wat is Senwes se doel? Binne die maatskappy is personeel eintlik die ouens wat die ding maak werk, die feit dat personeel gedryf word deur motivering en nie slegs salaris nie. Daai goed is tydloos. 'n Maatskappy is ʼn maatskappy absoluut vir sy klante, maar koppelend hiermee gaan dit ook oor hoe jy die omgewing verander, hoe verander jy lewens en self nog belangriker, hoe verander jy Suid-Afrika.”
Landboubesighede staan daarom voor ’n groot en belangrike keuse om suiwer te dink oor waarheen hulle op pad is en hoe hulle hul eie doel moet definieer. Die klant wil verseker weet dat die instansie met wie hy sake doen, net in sy belang optree.
Maar hoe gereeld moet mens hieroor nadink? “Dit is op ʼn minuut-tot-minuut basis. Maar ek sê dan ook daarmee saam dat as jy elke minuut jou doel verander, gaan jy nêrens heen nie. Jy moet deurlopend alles gaan herbesoek.”
Waarvoor sê jy Nee?
Strategie gaan ten eerste oor waarvoor jy “nee” moet sê as waarvoor jy “ja” moet sê.
Hier is dit belangrik om te weet waarheen jy op pad is. Dit is ook belangrik om nee te sê. Jy moet op jou voete staan en weet wat jy kan doen. Maar dit is meer belangrik om te weet wat jy nie kan doen nie, en om hiervoor nee te sê. Dit is maklik in die lewe om ja te sê. Dit is egter baie moeiliker om nee te sê. Dit is die goed wat jou definieer. Om nee te sê beteken jy moet seker wees van die goed wat jy wil bereik.”
Wees toekomsgerig
Daar moet van die begin af na die toekoms gekyk word. Toe ek in 2010 by Senwes as HUB begin optree het, het ek vir agt maande al die strategieë uitgedaag. Nou werk ons op ʼn lopende 10-jaar basis, en elke jaar skuif ons dus 10 jaar vorentoe. Die realiteit is dat besighede al hoe verder die toekoms moet inkyk.
Vir my gaan dit oor die nalatenskap wat ons agterlaat. Ek wil ʼn onderneming wat beter is as wat ek gekry het, nalaat. Ek wil mense se lewens verander, ek wil Suid-Afrika verander en daarom is ek bereid om my nek uit te steek, soos byvoorbeeld met Nasie in Gesprek.
Ter afsluiting
ʼn Goeie maatskappy se strategie is eintlik tydloos. Die metodiek mag oor die jare verskil, maar die feit is dat jy moet kommunikeer met almal wat in voeling is, het eintlik nog nooit verander nie.