Bora 'n gebore boer!




Die meeste boere begin reeds op 'n baie vroeë ouderdom leer oor boerdery deur deel te wees van die daaglikse boerderyaktiwiteite op 'n plaas.  Dit was egter nie die geval met Bora nie.
 

Gedwing om te boer

Bora is letterlik geforseer om te gaan boer toe beide sy ooms, Pule Monyatsi en George Letlojane, binne 'n jaar na mekaar oorlede is in 2013 en hy vanaf 2014 hulle skoene moes volstaan.  Sy pa Wesley, wat 'n sekuriteiteklerk by Senwes hoofkantoor in Klerksdorp is, was die een wat besluit het om Bora aan die diep kant in te gooi. 
 

Die begin

Die enigste opsie was om te leer swem. Bora was doodbang vir beeste as 'n kind. Hy het egter die uitdaging aanvaar, met 'n brokkie raad van sy pa. "Jy moet boer vir die liefde daarvan - nie vir geld nie". Daarmee het sy passie vir boerdery begin ontwikkel.
 
Sy gunsteling is 'n ou foto van homself, met 'n boerbok, en sy oupa, Andrew Aphiri. Hy dink dikwels daaraan dat die foto hom die idee laat kry dat hy gebore is om te boer. 
 
'n Mens moet sommer van meet af aan besef dat jy foute gaan maak.  Toe hy vir die eerste keer begin plant het, moes hy summier ophou nadat een van sy werkers, Elias Dlamini, hom daarop gewys het dat hy nie 'n merker gebruik het nie.  Alhoewel hy toe reeds twee hektaar mielies geplant het, moes hy eenvoudig stop en oor plant, maar hy het uit sy foute geleer.
 
Nou, na twee jaar op die plaas, is hy vol selfvertroue en weet hy presies wat hy wil hê.  He ken die verskillende kultivars, hy weet hoe om 'n trekker te bestuur, hoe om te plant, die grond voor te berei, ensovoorts.
 

Grootwordjare

Bora is in Mafikeng gebore en praat vlot Engels.  Hy is nou 29 jaar oud en 'n energieke jong man.  Hy het verskeie skole bygewoon in Klerksdorp, Stilfontein en Potchefstroom in die Noordwes provinsie en in 2005 by Milner High School gematrikuleer. Bora het Siviele Ingenieurswese en Inligtingstegnologie studeer voordat hy oorgeskakel het na Bemarkingsbestuur, waarin hy 'n diploma by Unisa verwerf  het. 
 

Die jare voor boerdery

Na voltooiing van sy studies het Bora onder andere as rekeningadministrateur by Standard Bank gewerk en as verkoopsman by Discovery, voordat hy in landbou "ingedwing" is.  
 

Sy plaas

Bora boer op die plaas Pula Ke Khumo – Trading One. Rofweg vertaal beteken dit "Reën is 'n Geskenk". Pula Ke Khumo beslaan 1 365 hektaar, waarvan 450 hektaar bewerkbare grond is.
 
Die plaas het hierdie jaar sy naam gestand gedoen, selfs gedurende die droogte, aangesien hulle volgens Bora 600mm reën oor die afgelope jaar ontvang het, terwyl hulle normaalweg tussen 450mm en 600mm ontvang. Dit was egter nie die geval op al die plase in die Vereeniging gebied nie - reën het plek-plek voorgekom en baie boere was nie so gelukkig nie. Bora het 600 hektaar gebruik vir weiding en hy verhuur die oorblywende grond aan ander boere in die gebied.
 

Sinvolle boerdery

Die familie het hierdie jaar besluit om slegs 80 hektaar te plant in 'n poging om die risiko wat die droogte inhou, te verlaag.  "In retrospek besef ek nou dat ons meer kon plant, maar op daardie stadium was die risiko te groot". Hy het besluit om 45 hektaar witmielies en 35 hektaar geelmielies te plant.  Toe Senwes Scenario hom besoek het, was hulle besig met die maak van bale om te verkoop.  Die verkoop van die bale en die huurinkomste wat hulle ontvang help met hul kontantvloeisituasie - iets waarmee die meeste boere bekend is.
 

Personeel

Bora het twee werknemers op sy plaas, wat hom met alles help.  Hy vertel dat daar vyf huise op die plaas is wat hy van die regering huur en waarin sy werknemers en ander mense woon.  "Ek sorg vir my personeel deur 'n huis, elektrisiteit en water aan hulle te voorsien". 
 

Familie

Die vrou in Bora se lewe is Boitumelo en hulle ken mekaar reeds sedert hul hoërskooljare.  Hulle het twee kinders, 'n seun Onthathile (2) en 'n dogter Leano, wat 5 maande oud is.  Sy gesin woon in Mafikeng maar hy besoek hulle so gereeld as moontlik. 
 

Sy mentor

Sy mentor in boerdery is Herculas Willemse, 'n groot kommersiële boer in die gebied. Hy sê altyd ek moet soveel as moontlik van hom leer terwyl hy nog hier is, wat presies is wat Bora doen.
 

Senwes

Hy het groot respek vir Senwes Landboukundige, Julias Ramohlabi. “Julias is soos 'n ouer broer vir my.  Ons respekteer mekaar en hy het baie begrip vir my situasie". Benewens die ondersteuning wat hy van Julias ontvang, lewer Senwes ook ander dienste, soos die verskaffing van lenings aan boere.  Hy is ook gelukkig dat sy plaas slegs 3 kilometer vanaf die naaste Senwes silo is, naamlik Raathsvlei silo.
 

Motto

Hy glo daaraan dat 'n mens nie bang moet wees om jouself te wees nie.  As Christen maak Bora die stellilng dat hy sterk genoeg is om all uitdagings te aanvaar.  "As 'n mens nie so nou en dan swaarkry nie, sal jy nie in staat wees om uitdagings te bowe te kom nie". 
 

Moeilike tye

Bora erken dat dinge soms moeilik kan raak.  Wanneer dit gebeur pas hy die raad toe wat hy by 'n motiveringspreker / sielkundige gekry het.  "Nou en dan gaan ek uit veld toe en ek skree so hard as wat ek kan.  Ek het geleer om te skree waar niemand my kan hoor nie. Die veld is my terapeut".
 

Wat hy geleer het

Een ding wat hy geleer het is dat 'n boer se werk nie klaar is wanneer die werksdag verby is nie.  Hy het ook geleer om sy besittings op te pas.  Hy verwys hier na veediefstal, wat sedert 2014 al  vir hom 'n probleem is.  Op een stadium is 52 beeste gesteel, waarvan 27 teruggevind is.  Die kudde het sedertdien tot 37 uitgebrei.
 
Na twee jaar in die boerdery lyk dit of Bora hoogtepunte en laagtepunte beleef het, wat hom ongetwyfeld slyp tot 'n uitstekende boer.  Mag die naam "Geskenk van Reën" 'n aanduiding wees van wat in die toekoms vir Bora voorlê!