Agri SA spreek kommer uit oor bek- en klouseer uitbrake

  • 29 November 2019
  • 3254
  • press-release




“Dit sal ‘n negatiewe ekonomiese impak op die landbousektor hê,” waarsku Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA. “Die nasionale verbod op veeveilings kom op ‘n tydstip wanneer boere reeds kontant-tekorte ervaar. Dit plaas verdere druk op die volhoubaarheid van boere.”

Daar is talle uitdagings oor die wyse waarop die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) die siekte in die beheergebied bestuur.

“Ons verstaan die regering se besluit om ‘n verbod te plaas op veilings terwyl die omvang van die uitbraak bepaal word. Maar dit is bloot ‘n korttermyn oplossing om die impak van die siekte te versag,” sê Van Zyl. “Ons is bekommerd oor die potensiële verspreiding van die siekte na ander provinsies, wat katastrofies vir Suid-Afrika kan wees. Die opsporing van besmette diere is ‘n saak van dringendheid.”

Konsultasie en samewerking tussen alle rolspelers is noodsaaklik.

“Ons doen ‘n beroep op alle belanghebbendes in die openbare- sowel as privaatsektor om met die DALRDD en Veeartsenydienste saam te werk ten einde die krisis aan te spreek,” sê Dan Kriek, Agri SA President. “Die bestaande strukture binne georganiseerde landbou, soos die Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF) en lede van die Rooivleisindustrie-forum (RMIF), is in die beste posisie om die situasie te bestuur.”

Agri SA doen ‘n beroep op die DALRDD om voortdurend met hierdie strukture saam te werk en om voldoende hulpbronne toe te wys om die nodige ingrypings te implementeer. Die aankondiging van die ontplooiing van opgegradeerde sekuriteitsmaatreëls langs die Limpopo-grens word verwelkom.

Agri SA vra dat die verbod so spoedig moontlik opgehef word sodra die nodige sekuriteitsmaatreëls dit toelaat.

Lees die RPO se verklaring in dié verband hier:  https://bit.ly/3367I04

Navrae:

Dan Kriek
Agri SA President
082 944 0566

Omri van Zyl
Agri SA Uitvoerende Direkteur
082 417 5724