39 John Deere Trekkers by Agrivan Boerdery




Heelwerktuigbemarker by die Senwes Equipment tak in Hoopstad, Kwek Dietrichsen, het in totaal 33 van hierdie vloot John Deeres aan die eienaar, Ian Easby en sy vennoot, Werner du Plessis verkoop.
 
 
Werner trek hulle in ʼn halfmaan, al 33 wat Kwek aan hom verkoop het, wat insluit 3 x 7200R modelle, 2 x 7210R, 9 x 6125M, 14 x 5076E en 5 x 5303 modelle, asook ʼn verdere 6 John Deeres wat deel van hierdie vloot uitmaak en dis indrukwekkend!
 
Vol lof vir Kwek
Agrivan Boerdery het dié 33 trekkers vanaf 2013 tot 2016 by Kwek gekoop en hoewel Kwek nederig is, het Werner sowel as die takbestuurder by die Hinterland tak in Hoopstad, Jaco van Graan, net goeie woorde vir Kwek. Jaco vertel dat Kwek se naam gereeld opduik as dit by trekkerverkope kom. “Hierdie is ʼn eenheidrekord, veral in dié area. In die laaste vier jaar het ons nie lekker reën gehad nie, en met dit inaggenome, skuif Kwek regtig baie trekkers. Hy sit elke maand trekkers deur. In September was dit ongeveer R8 miljoen s’n alleen. Hy het nie net klante nie, hy het vriende. Dit is wat hom so goed maak.”
 
Maar Kwek hou voet by stuk dat hy dié klant dieselfde as al sy ander klante diens – “Dit gaan vir my uit en uit oor naverkopediens. Hoewel baie korrespondensie telefonies is, is dit is die verhoudings wat saak maak,” vertel Kwek, wat al sedert 1999 by Senwes werk.
 
En wat hom so goed maak, is dat hy feitlik die hele bedryf ken. Hy was onderdeleverkoopsklerk in Wesselsbron, daarna onderdelebestuurder vanaf 3 Mei 2005 by Hoopstad - die dag toe hulle oopgemaak het. Vanaf 2008 is hy die heelwerktuigbemarker in die dorp.
 
Volgens Werner het Kwek ‘n kwotasie op een trekker gegee - dit het begin met ‘n 7200. Vandaar af het hulle grootmaat aangekoop en vervang hulle hul vloot elke vier jaar.
 
Jaco is in sy noppies met Kwek – “Kwek sê Senwes het hulle (die klante) gedraai.  Ek sê dis net soveel hy wat hulle (die klante) gedraai het.” Kwek vertel verder dat dit Senwes Equipment se mikpunt is om 40% markaandeel te handhaaf en wat veral lekker is van ʼn klant soos Agrivan, is dat ‘n klant wat voorheen van mededingers gekoop het, 100% na John Deere oorgeskakel  het. "Ek kan met vertroue sê dat Werner se bloed verseker groen is.”
 
Agrivan Boerdery
Agrivan het klaar begin met hul vervangingsprogram. Die eerste John Deere trekker is nou ingeruil na 3 750 uur, met die res van die vloot se vervanging wat klaar geskeduleer is.
 
ʼn Bietjie meer oor Agrivan Boerdery is dat hulle oorhoofs in die aartappelbedryf betrokke is en permanent op 700 hektaar op ʼn 7-jaar rotasieprogram produseer. Hierdie eenheid, wat vier plase beslaan, is in die hartjie van die Christiana omgewing. Hulle is ook aandeelhouers en lede by Wesgro, die grootste voorsiener van aartappels in Suid-Afrika. 
 
Vir Werner gaan alles oor verhoudings. Kwek het in ons ʼn klant vir die lang termyn, of soos Werner dit stel, “Kwek het my vloot en ‘n kopie van die vervanging. Trekkervervanging is vir my soos gif of kunsmis - iets wat jy moet doen.” Hy noem dat toe hulle die 14 x 5076E gekoop het, alles net begin klop het. “Die prys was beter, die waarborg beter, die koers, naamlik prima min 9% en uitstekende inruilwaarde was beter as dit wat die kompetisie gebied het,” lag ‘n goeie besigheidsman.
 
John Deere – Emosie en somme
“Natuurlik is daar ʼn bietjie emosie as dit by John Deere kom en dit is ʼn lekker gevoel om NET groen te wees, want John Deere getuig van kwaliteit. Die somme moet egter ook uitwerk. In elk geval sal my seun, Werner (6) my nooit vergewe as ek iets anders koop nie. Hy sal dink daar is iets fout met my." Werner het ook twee ander kinders, naamlik die oudste Anje en klein Pieter.
 
“Ons het ʼn redelike fris vloot en ek kan weer met sekerheid na veral dié jaar sê dat as jy John Deere vergelyk met alles in dieselfde klas, kan John Deere nie geklop word nie.”
 
Werner sê dis beslis nie ‘n geval van blindelings in ‘n ding ingaan nie, dis feite. 
Dis ʼn wen-wen situasie.
 
Senwes en John Deere klante
Hierdie boerdery is ‘n groot Senwes klant en doen gereeld aankope by Hartswater en Hoopstad. Enenewens al bogenoemde raak die pakkie by Senwes Equipment volgens Werner net groter. “Die lekker is dat Kwek ʼn eenheid aan my verkoop en toewyding gaan betaal. Ons plan werk.” 
 
Met die volgende generasie produsente reeds aan die grootword, is Werner positief dat die groen trekkers nog vir jare op dié plaas gaan dreun: “Ek moet dankie sê vir die diens van Senwes Equipment en John Deere. Ek het nog nooit gevoel hulle gee die verkeerde antwoorde vir my nie. My seuntjie se siel kan ook nou rus - John Deere sal dit wees vir die toekoms.”