‘n Veranderde ingesteldheid rondom graanbemarking




Inleiding:
Pryse het, ten spyte van groot oordragvoorraadvlakke, sterk gereageer op die warm en droë weer wat aanplantings vertraag het. Sommige produsente het teen vlakke (wat op daardie tydstip goeie vlakke was) vasgeprys, omdat hierdie vlakke soveel hoër as die vorige jare se pryse was en opsies duur was. Alhoewel die besluit op daardie stadium sin gemaak het, gegewe die beskikbare inligting, is die realiteit dat heelparty van hierdie verskansingsvlakke veel laer is as wat tans benut kan word. Uit die aard van vasteprys-verskansing is dit voorts moeilik om iets te doen om hierdie besluit se gevolg beter te maak, veral wanneer pryse as gevolg van droë toestande sterk styg . Die realiteit van kontrakuitkope indien daar nie ‘n oes realiseer nie, kan verder ‘n reuse finansiële implikasie hê.  Die  gebruik van ‘n bemarkingsplan en alternatiewe verskansingsmetodes sou waarskynlik so ‘n produsent in ‘n beter posisie geplaas het.

‘n Bemarkingsplan:
‘n Goeie bemarkingsplan moet aan die volgende vereistes voldoen:
1. Beskerm die produsent teen die risiko van afwaartse prysbeweging 
2. Bied aan ‘n produsent die geleentheid om te deel in prysstygings
3. Bekostigbaar wees
4. Beskerm teen onnodige leweringsrisiko en gepaardgaande uitkope
5. In lyn wees met die produsent se risikoprofiel
6. Dinamies wees om aan te pas soos wat nuwe markinligting beskikbaar raak.

Om ‘n goeie bemarker te wees moet ‘n produsent sy bemarking vir ‘n seisoen beplan, die dissipline hê om die plan te volg, goeie marklinligting hê, weet waar sy doelwit en gelykbreekpryse is en ‘n redelike begrip hê van moontlike prysingsalternatiewe.

Dit is verder onrealisties om te verwag dat ‘n produsent elke keer rondom die hoogtepunt van die mark moet verskans. Daar moet eerder verseker word dat daar elke keer bo ‘n gelykbreekvlak verskans word – geen verskansing moet ‘n verlies realiseer nie. Verder moet ‘n produsent homself weerhou daarvan om paniekerig te raak en naby aan die onderkant van die mark te verskans.


In Grafiek 1 word die emosionele siklus van die mark verduidelik. Produsente moet veral daarteen waak om naby aan die bokant te gierig te wees en nie te wil verskans nie, maar ook om nie naby aan die onderkant paniekerig te raak en uit vrees te verskans nie.

Deur ‘n bemarkingsplan uit te skryf in dieselfde tyd wanneer ‘n produsent sy produksiebeplanning doen, het die boer reeds ‘n vertrekpunt rakende die vlakke wat vir elke gewas benodig word, sowel as ‘n dokument wat kan help met die dissipline om ‘n bemarkingsplan te volg. 

Opsies as versekering
Daar word baie in die plaaslike mark gehoor dat opsies te duur is en dus nie geskik is as verskansingsinstrumente nie. Dit is belangrik dat produsente begin om ‘n kopskuif hieroor te maak en opsiepremies as ‘n insetkoste sien. Net soos wat daar ‘n premie betaal word vir hael- of multirisikoversekering, kan opsiepremies gesien word as ‘n verskeringspremie teen dalende pryse. Net soos tradisionele versekering, bied prysversekering nie net beskerming (teen dalende pryse) nie, maar ook gemoedsrus (wanneer pryse styg of oeste nie realiseer nie.)

Die koste van opsies kan in perspektief gesien word, deur nie na ‘n rand-per-ton koste te kyk nie, maar eerder ‘n rand-per-hektaar bedrag te begroot. Indien ‘n produsent met ‘n 5 ton LGO begroot om R500/hektaar aan opsies te spandeer, kan 2 ton per hektaar met opsies verskans word wat R250/ton kos. Sy koste, gemeet aan die verwagte LGO, is dan R100/ton. 

Eenvoudige voorbeeld:
In die bogenoemde geval van ‘n LGO van 5 ton per hektaar, kan ‘n eenvoudige bemarkingsplan as volg opgestel word:
Insetkoste : R8500/ha
Winsmarge : R1275 (15%)
Inkomste benodig : R9775/ha
Sakprys benodig : R1955/ton (5 ton LGO)
Basis : R250/ton
Safexprys benodig : R2205/ton

Gestel die produsent bemark 2 ton/ha in planttyd, 2 ton/ha na bestuiwing en die laaste 1 ton/ha in strooptyd.

Die produsent in bogenoemde scenario kan bemarking dan op verskeie maniere benader. Een is om te werk op die R100 ton opsiepremie wat begroot is hierbo. In planttyd koop die produsent R2300 – trefvlak put-opsies teen R250/ton vir 2 ton/ha. Omdat hy onseker is oor die ontwikkeling van die seisoen verder, neem hy nou geen verdere verskansingsposisies in nie. Sy blootstelling is as volg:


In die bogenoemde scenario is die produsent se opsiekoste, gemeet teen sy LGO, steeds R100/ton. Hy kan deel in stygende pryse en het reeds beskerming in plek teen dalende pryse. Die groot voordeel van hierdie tipe van bemarking is die gemoedsrus wat gekry word – indien pryse styg as gevolg van swak weervooruitsigte, deel hierdie produsent in die styging en sy maksimum bloostelling is reeds beperk tot die R500/ha wat begroot is. Indien pryse daal, het hy reeds vir 40% van sy LGO prysbeskerming uitgeneem.

Opsommend:
Die termynmark word dikwels in sosiale media en ander platforms as ‘n verneukspul uitgemaak. Soos wat vorige artikels reeds verduidelik het, is die hooffunksie van die termynmark die ontwikkeling en vasstelling van pryse deur verskeie rolspelers. Deur die termynmark te benut met ‘n vooraf uitgewerkte bemarkingsplan, kan ‘n produsent homself as een van die rolspelers posisioneer. Deur van kundige advies gebruik te maak en aan die mark deel te neem, kan ‘n produsent dit regkry om deurlopend sy produksie teen winsgewende vlakke te bemark en terselfdertyd risiko beperk.