Lekaanvulling – Feite of fiksie




Dit is wel ‘n feit dat baie van die ou garde baie dinge reg gedoen het, maar dat iets soos lekke oor tyd nie noodwendig aangepas is op plase met veranderende produksiestelsels, klimaatsveranderinge, verhoogde diereprestasie, ens nie. Voorts sluimer die gevaar ook altyd dat “lekresepte” van generasie na generasie of van boer na buurman oorgegee word met die risiko dat die lek elke keer hier en daar verander word na smaak, en ons bevind ons gereeld in ‘n situasie waar so ‘n lek oor tyd hoegenaamd nie meer die doel dien nie, hetsy in terme van diereprestasie of uit ‘n ekonomiese oogpunt. In hierdie artikel gaan ons na enkele mites binne lekaanvulling kyk, bloot om die veeprodusent in staat te stel om sy of haar strategiese lekaanvulling te beoordeel en indien nodig, te herbelyn.

Die groot sondebokke

Sekerlik een van die grootste sondebokke in strategiese lekaanvulling, is dat lekke soms as ‘n wonderkuur gesien word, ‘n towerstafie as't ware wat kan pa staan vir fundamentele bestuursbeginsels wat nie in plek is nie. Nie die beste produkte en lekprogramme bekend aan ons kan opmaak vir sub-standaard kuddebestuurspraktyke, swak weidingsbestuur of swak kuddegesondheid nie.  Die gemiddelde lekinname van ‘n GVE is tussen 3.5% - 5% van die totale jaarlikse droëmateriaalinname. Ons verloor die stryd op die oorblywende 95% en verwag soms dat lekke alles moet reg dokter.

In die tweede plek, en iets wat ons baie sien, is die veralgemeningsreël. Dit is waar produsente glo dat as ‘n bepaalde produk (of in baie gevalle ‘n tuisgemengde rantsoen) by sy of haar buurman werk, dit by hom ook moet werk, en as dit nie die geval is nie, kry so ‘n produk baie gou en onnodig 'n swak reputasie. Ons kan nie ‘n haelgeweerbenadering in lekaanvulling volg nie. Elke plaas is uniek in baie opsigte, van bestuur regdeur tot tipe weiding en tipe dier. Dit is dus krities belangrik dat jou lekprogram belyn is met jou plaas en die behoefte van jou tipe dier, en meer belangrik dat jou lekprogram elasties moet wees om van jaar tot jaar aangepas te kan word, sou dit nodig wees.

In die derde plek, en verseker een van die warmste debatte in lekaanvulling, is en sal altyd koste bly. Ek is ook ‘n groot voorstaander van aanvulling wat ekonomies geregverdig kan word en wil te alle koste verhoed dat produksie gekoop word, maar hier is ‘n baie fyn balans wat gehandhaaf moet word. Daar is in diepte al geskryf oor die ekonomiese voordele van ‘n korrekte strategiese lekaanvulling en baie navorsing is op die gebied gedoen wat die bewese voordele uitgewys het op kritiese ekonomiese parameters, soos konsepsiesyfers, kalf-/lampersentasies, speengewigte en herkonsepsiepersentasie. Die doel van die artikel is nie om die finansiële voordele van lekaanvulling te beklemtoon nie, eerder om die volgende gedagtes te, los naamlik: Is lekke regtig duur, of moet ons eerder vra: “ hoe duur is dit om nie lekke te gee nie?" Ons weet almal wat die korrelasie is tussen liggaamskondisietelling en konsepsiepersentasies. Die tweede gedagte rakende die ekonomie van lekaanvulling is die rand per sak debat. Ons moet waak dat die goedkoop lek in terme van rand per sak nie op die ou einde dalk ‘n baie duur opsie is nie - weet waarvoor jy betaal. Ons maak onsself soms skuldig om lekke te verwater, om koste te spaar. Lekke is ‘n alles of niks benadering, kort paaie mag dalk na ‘n korttermynoplossing lyk, maar op die lang duur  is daar ‘n hoë prys om te betaal.

Slotopmerkings

Geen lekprogram sal suksesvol wees indien ons nie aan die basiese behoeftes van die dier voldoen nie. Die enkele grootste rede hoekom lekke faal in hulle doel, is eenvoudig omdat daar nie genoeg natuurlike weiding beskikbaar is nie. Dit is ook gewoonlik waar ons die opmerking hoor: “Die beeste vreet my nou bankrot aan lek”, en waar goed geformuleerde produkte “aangepas” word om koste te bespaar. Maak dus seker dat jou lekprogram aangepas is vir jou tipe dier, tipe produksiestelsel en baie belangrik, ook in lyn is met jou kwaliteit en kwantiteit natuurlike hulpbronaanbod. Dit is dus baie normaal dat twee buurmanne op dieselfde tydstip twee totaal verskillende lekstrategieë kan volg, as gevolg van faktore soos kondisie van die diere, produksiestatus van die diere of kwaliteit van weiding.  So waak dus teen veralgemening. Doen die korrekte ekonomiese berekeninge vir jou plaas, met jou omstandighede, eerder as om bloot ‘n aankoop te baseer op die goedkoopste produk. Werk die verskillende innamepeilings uit vir jou diere in verhouding tot die leksamestelling en berus jou berekening eerder op lekkoste per dier per dag. Die goedkoopste lek per sak is nie altyd die goedkoopste nie. Ten slotte moet ons lekaanvulling holisties benader en nie in ‘n boksie plaas nie. Lekke is net nog ‘n gereedskapstuk in die kas wat ons kan gebruik om maksimale wins te realiseer, mits die ander gereedskapstukke wel in die kas teenwoordig is.