Verskeie faktore het ’n effek op die groeperings wat jy met jou geweer kan skiet. In vorige artikels het ons gesien dat ammunisie se spoed en patroonlengte nie noodwendig ’n groepering tot gevolg sal hê nie. In hierdie uitgawe ondersoek ons die effek van eksterne temperatuur op ’n geweer se groepering.
I n die vorige 2 artikels het ons gesien dat indien ’n geweer se ammunisie ’n konstante spoed skiet, dit nie noodwendig ’n goeie groepering tot gevolg het nie. Tweedens het ons gesien dat die konstante spoed gebruik kan word om jou ammunisie akkuraat te kry deur die totale patroonlengte aan te pas. Indien jy die gewenste lading met ’n kon stante spoed het, met ’n gewenste totale patroonlengte, kan ’n geweer baie klein groeperings skiet. Hoekom kan die kombinasie wat as perfek beskou word, dan vir ons ’n paar maande later moedeloos maak wat groepering aanbetref?
Sodra ’n geweer nie meer die grootte groepering skiet wat ons aan gewoond is nie, begin ons by die algemene moontlikhede. Die teleskoop is dalk los. Is die geweer se loop reg skoongemaak? Is die geweer se kolf nie dalk los nie? En so begin al die vrae in ons kop rondmaal.
Kort voor lank is ons die rede vir die ongewenste groepering as gevolg van al die onbeantwoorde vrae. Maar het jy al gekyk of jou geweer nog steeds dieselfde spoed skiet met die uitgewerkte lading van ’n paar maande gelede?
Indien herlaaiers ’n gewenste spoed vir hulle geweer soek, wil hulle graag hê dat drie skote se spoed met nie meer as 15 fps van mekaar verskil nie. Net so werk skuts daaraan dat hulle gemiddelde spoed op verskillende dae nie meer as 15 fps van mekaar verskil nie. Indien jou gemiddelde spoed met meer as 15 fps verskil, kan jou groepering van jou oorspronklike groepering verskil.
Aangesien ons nou lekker warm temperature het, was dit maklik om op die baan te gaan kyk watse uitwerking temperatuur op my spoed en groepering het. Ek het twee verskillende 308-kaliber gewere gebruik om te toets of temperatuur wel my spoed beïnvloed. Ek het ammunisie vir 10 minute in die vrieskas gesit en ammunisie in ’n toe voertuig gelos vir 10 minute. Ek het ook ammunisie in die geweer se sak gesit in ’n gewone houer, om te gebruik as die norm vir die toetse. Die ladings bo-aan die tabel op bl 32 is gebruik in die twee toetsgewere. Die data wys vir ons duidelik dat slegs 10 minute se blootstelling aan ’n hoë of lae temperatuur ’n effek op die gemiddelde spoed het. Meer belangrik is dat die verskil in gemiddelde spoed ook ’n verskil in die groeperingsgrootte het. Alhoewel die gemiddelde spoed met wapen 2 slegs 16 fps is, verskil die groeperingsgrootte met 12 mm.
Nog ’n waarneming uit die spoedtoetse is dat geweer 2 se gemiddelde afwyking kleiner is as die afwyking van geweer 1. Geweer 2 se lading is 4 gr meer as geweer 1 se lading. Geweer 2 se dop het dus meer kruit in en minder plek vir lug as geweer 1 se dop. Is dit dus die lug binnein die dop, of die kruit self, wat hittesensitief is en die verskil in spoed tot gevolg het? Wees dus versigtig waar jy jou ammunisie bêre voor daardie belangrike skoot op die trofeebok. Lê jou ammunisie voor in die voertuig in die son, of word dit in ’n houtkissie weg van direkte son af gebêre?