Scenario het by die Agri SA Kongres gaan luister hoe Morné Mostert, Direkteur: Instituut vir Toekomsnavorsing by Stellenbosch Universiteit, die toekoms sien en die produsente bietjie toekoms-touwys gemaak het.
TOEKOMS IS ’N SNAAKSE DING
Hy val sommer met die deur in die huis met die kompleksiteit van die toekoms, met spesifieke verwysing na die impak van die vierde industriële revolusie, die tema by die 2019 Agri SA Kongres.
Feit is dat nie slegs hulle nie, maar almal moet nadink oor die toekoms rakende die aard van denke, toekoms en hoe dit verskil van die hede of verlede. Die kruks is dat die manier waarop ons dink, vinnig verander en dit het ernstige implikasies vir besluitneming deur senior personeel. Dis presies waar die boer of besigheidsboer inkom.
Twee waarhede en vrae oor besluite vir die toekoms
1. Wanneer word besluite geneem? Besluite word altyd in die huidige tyd geneem, selfs al is dit môre of gister.
2. Die tweede waarheid: Waarop baseer jy die besluit? Meestal op die verlede.
Hierdie vorm die basis van Mostert se toekomswetenskap, want die verlede is gebaseer op ’n tyd wat ons nooit weer gaan besoek nie. Die ekstra skop is wanneer jy uiteindelik besef vir watter tyd die besluit geneem word, die toekoms. Die manier hoe ons besluite vir die toekoms neem, behels ’n klomp faktore rakende denke en die kwaliteit van denke.
DIE MODUS OPERANDI VAN DENKE
Die duimreël hier is om die mag van ’n vraag te verstaan. As jy vra begin jy ondersoekend dink, dan begin die toekoms te verander. Indien jy nie vrae vra nie, eindig jy op in iemand anders se toekoms.
Hoe spandeer jy jou intellektuele denkenergie?
Nou dat Morné jou aandag het – hoe spandeer jy jou intellektuele energie? Die skok! Jy moet slegs 20% van jou intellektuele energie op die verlede spandeer, 30% op die hede en ’n massiewe 50% op die toekoms, dus die helfte op wat nog nie gebeur het nie.
Die Opatch-beginsel van denke
Opatch is ’n belangrike akroniem vir Mostert, wat staan vir Origin-PatternsAttitudes-Traditions-Cultures-Habits oftewel Oorsprong, Patrone, Houding, Tradisies, Kulture en Gewoontes in Afrikaans. Dit gaan daaroor om iets te doen met die kennis wat jy reeds het en dus doen jy dit uit gewoonte, sonder om eers daaroor na te dink. Jy aanvaar dit net. Dit beteken jy dink, maar tog dink jy nie regtig nie, want jy kopieer net uitgedateerde denke.
Hoe verander jy jou denktyd?
Media druk sake in jou rigting, selfs buite jou vakgebied. Dink dus buite jou eie bedryf en teen wie jy gaan kompeteer. Feit is dat organisasies wat konstant na die toekoms kyk, ander uitpresteer. Hoe doen jy dit? Bou tyd in jou skedule in om oor die toekoms te dink - onthou 50%. Is jy daar?
TOEKOMS, BEGINSELS EN DIE VIERDE INDUSTRIËLE REVOLUSIE
Beplan en moenie oor die toekoms bekommerd wees nie.
Die eerste beginsel oor die toekoms is dat jy nie die toekoms kan voorspel nie. Hier het jy die gemak dat jy die toekoms kan ontwerp en die uitdaging dat indien jy dit nie gaan doen nie, gaan iemand anders dit doen.
Die Cremora-beginsel – Dit is nie binnein te vinde nie, maar eerder bo-op. Kyk eerder buite jou plaas, besigheid en land, want mens kry nie buitelandese investering van binne af nie.
Oprah-beginsel – Alles begin binne jouself. Dit is egter te onwaarskynlik om waar te wees. Dink aan hierdie eenvoudige multikeuse vraag: Waar begin dit? A – met jouself of B – dit begin met een van die 7,7 miljard mense ter wêreld. Wat is die mees korrekte antwoord? Dit is nie te sê dit kan nie met jouself begin nie, maar dit is baie onwaarskynlik.
Glo-in-jouself-beginsel - Dit is nie goeie advies of korrekte wiskunde nie. Sukses is kollektief.
Die raad aan boere hier is om die toekoms te ontwerp, buite boerdery te kyk. Dink oor boerdery, deel dit op in dele met nuwe denke rakende die inhoud (waaroor dink jy?), metodes (hoe?) en die vlak van denke (operasioneel of strategies). Dink hieroor - dit is onwaarskynlik dat ontwrigting van binne boerdery self gaan kom.
Wat is die vierde industriële revolusie?
Daar was industriële revolusies soos water/ stoom, elektrisiteit en rekenaars. Basies verander die bedryfstelsel van die industrie tydens die vierde industriële revolusie. In kort het toestelle gesprekke met mekaar, sonder jou. Toestelle gesels dat die biesies bewe, wat ook as die Internet van Dinge bekend staan. Hier is die lyn tussen wat ’n mense en masjien is, besig om te vervaag.
Hoe verander dinge in die vierdie industriële revolusie?
Neem dié voorbeelde: Is dit ’n belediging of kompliment? Dis jou verbeelding! In die ou dae was dit ’n belediging, nou in die vierde industriële revolusie kan dit ’n kompliment wees, want dit was immers Albert Einstein wat gesê het dat verbeeldingrykheid die ware teken van intelligensie is. Die vierde industriële revolusie begin nuwe vrae vra soos: Wat is ’n mens of boer? Wat is jou rol? Die paradoksaal is dat dit ons nuwe vars vrae laat vra oor wat die mense nou eintlik na die tafel bring.
Die effek van die vierde industriële revolusie?
Werk
Almal is bekommerd oor die beskikbaarheid van werk, maar die waarheid is dat besigheid so werk dat mense oor die kort termyn hulle werk kan verloor. Ons in die vierde industriële revolusie moet weet dat besigheid altyd kunsmatige intelligensie bo gewone of natuurlike onnoselheid sal verkies. Waarheid is dat baie dit so verkies. Neem byvoorbeeld ’n hotel. Wil jy regtig praatjies met die persoon agter die toonbank maak? Nee, jy sou ook eerder ’n masjien verkies.
Groot Data
Groot Data bring ervaring in ’n japtrap. ’n Wynboer neem 30 jaar om ervaring op te bou, maar met Groot Data kan inligting van 10 000 wynplase van dieselfde streke vinnig geïnkorporeer word. Hoe lank neem 10 000 jaar ervaring? Wel dit is Groot Data en dit verander ons begrip oor hoe ons dink oor ervaring. Die feit is, alles word gekoppel aan alles, en op sigself het hierdie allerlei soorte implikasie vir landbou. Tendse word oor tyd geskep en die feit is dat ons tendse oorskat oor die kort termyn en onderskat oor die lang termyn. Dit alles beïnvloed hoe ons oor die toekoms dink.
TYD EN AFSTAND IN DIE TOEKOMS
Tyd is nie universeel nie
Ons almal het verskillende uitkykpunte oor tyd. Stel jouself voor jy word uitgenooi na ’n vergadering wat Woensdag plaasvind. Indien dit vorentoe geskuif word met twee dae, kan party dink dat dit Maandag plaasvind, met sommiges wat dalk dink dat dit Vrydag kan wees. So besef ons dat tyd op sigself nie universeel vir ons spesie is nie.
Tegnologie, afstand en persepsie verskil
Die waarheid is dat tegnologie al hoe nader aan ons liggame kom. Na ’n tyd dring dit op ’n sekere punt binne. Tegnologie vervaardig laboratoriumvoedsel wat ons inneem - vir ouer volwassenes kan dit ’n probleem wees en kan hulle nie indink dat voedsel in ’n laboratorium hoort nie. Vir jonges kan ’n slagpale weer iets vuils en ondenkbaar voorstel.
LEIERS, LYNE EN VERBEELDINGRYKHEID
Leiers moet verandering lei
Die belangrikste is vir leiers om te vergader rakende verandering. Denkklubs soos die Konferensieklub van Rome, vergader gereeld oor die groot drywers van die toekoms, naamlik klimaatsprobleme, hoop, hoe die ekonomie verdeel word, gesamentlike pogings en om byvoorbeeld oor die toegang tot finansies te gesels.
Die toekoms moet anders as die lyn daar uitsien
Die toekoms gaan anders lyk. Skole is eintlik ontwerp vir die eerste revolusie en vandag vertoon dit amper presies dieselfde as eeue gelede. Dis die enigste herkenbare aspek van daardie tyd en is spesifiek vir ’n fabriek ontwerp.
Ons stel weer die lyn bekend. Dit was destyds ’n ongelooflike ontdekking. Ons plaas dinge in lyn en het so verlief geraak op die lyn dat ons dit selfs in skole en werksisteme geïnkorporeer het. In ons gesprekstaal praat ons daaroor om dinge in lyn te plaas of in lyn te staan, ’n produksielyn word geskep en ons plaas dit selfs in ons titels waar ons ’n lynbestuurder kry, op en af met die lyn kommunikeer, ons plaas dinge dan in ’n tydslyn en durf iemand dit om uit lyn te beweeg, kry ons hulle dadelik weer in lyn anders gaan hulle aanlyn.
Die waarheid is dat die lyn verouder is en niemand hou eintlik meer van die lyn nie. Ons moet leer om oordeelkundig te dink. Dit is die vaardigheid wat ons nodig het vir die vierde industriële revolusie.
Hoe help hierdie ons denke?
Die ou byprodukte van universiteite sal die toekomsprodukte van universiteite word. Wat ons nou doen, is dat ons nog steeds voorgee dat die wêreld in ’n reguit lyn funksioneer. Ons moet die vermoë uitbrei om met verbeeldingrykheid iets te skep om komplekse probleme op te los. Dit help senior bestuur met hulle besluitneming. Hoeveel van jou huidige besluite is gebaseer op ’n tyd wat nooit weer gaan verskyn nie? Kyk na wat besig is om onder jou te skuif om redelike besluite, gegewe die omstandighede, te neem. Ons is eintlik toekomsraadgewende organisasies – dink advies, vorming van opleidingsprogramme, vennootskappe, klankborde beide binne en buite organisasie.
2030 EN DIE TOEKOMS IN LANDBOU
Een beginsel van die toekoms is dat daar eerder ’n spektrum van geleenthede vir die toekoms ondersoek gaan word, eerder as ’n geval waar dinge net gaan verval. Dit bied baie toekomse vir landbou, met die gevolg dat daar verskillende vorme van plase gaan bestaan. Jy gaan basies ’n spyskaart van opsies hê - plase wat gaan lyk soos plase van ouds, party wat eerder soos fabrieke of navorsingsinstellings daar uitsien. Die opsies is legio, maar die feit is dat outomatisering een van die hoofdrywers is.
Die sosiale goed gaan ook nie verdwyn nie. Mense is net besig om te groei in die proses en ons is besig om te kompenseer vir kompleksiteit met meganisasie. Hou die basiese begrip dat sonder ’n vandag, is daar ook nie ’n môre nie, maar dit gebeur teen ’n baie hoër tempo en mate van verandering.
Netwerk binne hierdie hoë volatiliteitsen veranderde omgewing is een van die faktore wat jou veerkragtigheid en voortbestaan ’n hupstoot gaan gee en jy waarskynlik gaan oorleef. En indien ons dit doen, lyk die spyskaart van opsies in landbou baie aantreklik. Alles hang natuurlik af deur watter lens jy kyk.